GB-sindroom trek Pumas se slot wéér plat
Dit, skaars twee jaar na dié 27-jarige vir die eerste keer vir dié lewensbedreigende siekte opgeneem is.
MBOMBELA – Die veteraanslot van die Steval Pumas, Eduan van der Walt, lê sedert Vrydagaand in die intensiewesorgeenheid in Netcare Unitas Hospitaal in Pretoria waar hy wéér vir Guillain-Barré-sindroom behandel word. Dit, skaars twee jaar na dié 27-jarige vir die eerste keer vir dié lewensbedreigende siekte opgeneem is.
Volgens die spandokter van die Pumas, dr. Kobus Hugo het Van der Walt Vrydagoggend van erge spierswakheid begin kla. Dit het deur die loop van die dag vererger en hy is in Unitas opgeneem. Sy ouers woon in Pretoria en hy het vermoedelik by hulle tuisgegaan. “Die spierswakheid het vererger en van sy gesig na sy arms en bene versprei, maar hy is stabiel,” het Hugo Maandag aan Laevelder gesê.

Renaldo Bothma, ‘n leenspeler van die Pumas wat vir die Cell C Sharks Superrugby speel, het gesê dat Van der Walt moontlik aan ‘n ventilator gekoppel moet word, maar Hugo het dit ontken. “Die neuroloog het hom vanoggend besoek en gesê dat sy toestand gelukkig teen Sondag gestabiliseer het en dat daar geen agteruitgang sedert gister (Sondag) was nie. Hy reageer goed op behandeling en haal goed asem. Eduan gaan nog vir die volgende paar dae in die intensiewesorgeenheid gehou word en ons hoop dat hy, net soos die vorige keer, alle funksies gaan terugkry.”
Hy is in November 2012 vir dié sindroom behandel. ‘n Groep van die spelers was vir ‘n kort ruskans aan die einde van Oktober in Mosambiek nadat hulle die Curriebeker omhoog gehou het. Hy het hierna tydens oefensessies sametrekkings in sy bolyfspiere ondervind.
Die slot is aan die begin van die Vodacombeker-seisoen as kaptein aangewys, maar het al sedertdien verskeie terugslae beleef.

Hy het in vier wedstryde gespeel voordat hy sy regter kuitspier in die span se voorbereiding teen die Luiperds, geskeur het. Hy is ook verlede maand vir gordelroos behandel en die spanbestuur was toé al bekommerd dat die Guillain-Barré dalk terug is.
Hugo het bevestig dat dié sindroom wel weer kan terugkeer, al is dit vantevore gediagnoseer.
Die hemelbesem het in 2008 sy debuut in die Pienktrui gemaak.
Beterskapwense en ondersteuning vir Eduan stroom op Facebook in. Hier is ‘n paar:
• Johan Willemse – Edda ons bid vir jou my maat. Ons Hemelse Vader sal jou genees. Bly net positief ons sal aanhou bid.
• Jaun van Zyl – Baie sterkte Eduan – hoop dit gaan gou beter en ek glo die Here sal jou volkome genees! Vasbyt broer!
• Jacques Loots – Ons moet nog baie gaan visvang my broer. Kom gou reg.
• Magdil Badenhorst – Ons dink aan jou. Jy is ‘n sterk persoon en jy sal nes laas ook hierdeur kom. Moet nie moed opgee nie.
• Nicola Lemmer – Dink baie aan jou. Baie sterkte. Weet jy sal sterker aan die anderkant uitkom.

