Die 60s herleef met Mel Botes
Met sy huldeblyk aan Pink Floyd, het Botes die skare by Casterbridge gehipnotiseer.
WITRIVIER – Dit was soos ‘n blik op geskiedenis toe Mel Botes Saterdagaand ‘n huldeblyk aan Pink Floyd opgedra het.
Die Casterbridge-teater was stampvol en mense van alle ouderdomme het saamgedrom om weer deur Floyd se treffers meegesleur te word. Die klank was inderdaad so hard dat die luidsprekers al vroeg tydens die vertoning die gees begin gee het. Die krapperigheid wat deurentyd gehoor kon word, het skoon die hipnotiese klanke van Mel se kitaar laat wegsterf en ‘n ongemak in die gehoor veroorsaak. Nietemin het die kunstenaar nie ‘n enkele noot gemis nie.
Onder sy begeleiding was plaaslike klaviermeesteres, Ilse Maré. Haar passie en genot was duidelik sigbaar en haar vingers het moeiteloos oor die sleutels beweeg.
Mel se kenmerkende sonbril het ook later ‘n verskyning gemaak wat die rock ‘n’ roll-gees meer beklemtoon het. Soos wat die aand verloop het, het die krapperige geluide minder opvallend geraak en Mel die gehoor aan sy voete gehad – deels deur sy onmiskenbare talent op die snare, deels oor sy vriendelike en verwelkomende gesindheid. Sy woorde tussendeur was min, maar die mense het tog nie betaal om vir Mel Botes te hoor práát nie.











