Musiekvideo van Vaughan Gardiner en ADAM pas bekendgestel
Gedurende September vanjaar is die liedjie Wat Nou ft. ADAM, ook vanaf die album, aan radiostasies landwyd bekendgestel en dit pryk reeds bo-aan trefferparades landwyd.

Die talentvolle Vaughan Gardiner is ‘n sanger, liedjieskrywer, vervaardiger, akteur, musikant en het ook onlangs sy nagraadse studies in intellektuele goederereg aan die Universiteit van Stellenbosch met Cum Laude voltooi. Sy derde album Sit Vanaand Op herhaal is vroeg in 2015 bekendgestel en dié snit het vir baie weke in die nommer een posisie op talle trefferparades landwyd gepryk. Die musiekvideo van hierdie liedjie kan ook gereeld op verskeie televisie kanale in Suid-Afrika gesien word.
Gedurende September vanjaar is die liedjie Wat Nou ft. ADAM, ook vanaf die album, aan radiostasies landwyd bekendgestel en dit pryk reeds bo-aan trefferparades landwyd.
“Hierdie samewerking met ADAM was een wat baie spontaan gebeur het. Dit het sin gemaak om saam met ‘n groep wat so unieke klank aan die Afrikaanse musiekbedryf bekendgestel het te werk. Hierdie kombinasie belowe om die grense van Afrikaanse musiek nog verder te skuif met ‘n lied wat mens van binne tot buite laat borrel van geluk,” sê Vaughan.
Die groep ADAM het ook geen bekendstelling nodig nie. Hulle bestaan uit Hugo Ludik, Reynardt Hugo en Kyle Grant en met liedjies soos Goud en Sal Oorlog Vir Jou Maak het hulle diep in Suid-Afrikaners se harte ingekruip.
“Toe Vaughan die eerste keer die liedjie vir my gespeel het, het ek gesê ons wil so graag deel wees van dit. Die liedjie het soveel lekker elemente aan en die feit dat dit n fantastiese pop-liedjie is maak dit soveel beter. En natuurlik om met iemand so talentvol soos Vaughan te werk maak het die hele proses soveel meer die moeite werd gemaak” gesels Hugo Ludik, stigterslid van ADAM.
