Local newsNews

Familie vier ma se honderd-en-tweede verjaarsdag

Me Katie van de Venter gaan Saterdag haar honderd-en-tweede verjaarsdag saam met haar familie vier.

Met ‘n vriendelike glimlag, het die 102-jarige me Katie van de Venter oor haar lewe gesels toe dié joernalis gister ‘n draai by haar tuiste in Macadamia Village gaan maak het.

Katie is op 13 Februarie 1914 gebore en het al byna regoor Suidelike Afrika gebly. Sy vertel vlugtig dat sy in Harare met ‘n gebreklike voet gebore is, maar op vyfjarige ouderdom ‘n operasie in Pretoria ondergaan het om dit reg te stel.

Die gesin het Inhambane in Mosambiek toe getrek en Katie het daar (in Portugees) skoolgegaan, voordat hulle na Suid-Afrika verhuis het.

Sy het haar man, Hennie, (“die wonderlikse man op Aarde”) in 1934 ontmoet en hulle is drie jaar later getroud. Daar is twee seuns vir die paartjie gebore. Hulle het ondermeer in Durban, Port Elizabeth, Bloemfontein en George gebly voordat hulle in 2002 na Witrivier en Macadamia Village getrek het.

Katie sê dat sy by die Portugese Konsulaat as sekretaresse en in die rekeninge afdeling van die Poskantoor gewerk het. Sy was ook aktief betrokke by die kerk met die jeug, Sondagskool en susters. Haar skoondogter, Hermien, vertel dat Katie ‘n baasbakster was en tot onlangs nog haar eie klere gemaak het.

Katie en Hennie was baie lief vir reis en het in hul tagtigs die eerste keer oorsee gegaan om Italië en Switserland te toer. Die tweetjies was 75 jaar getroud toe Hennie in 2012 oorlede is.

Katie het vier kleinkinders en vyf agterkleinkinders en gaan haar verjaarsdag met ‘n ete saam met ‘n paar van hulle vier. Hermien vertel dat hulle haar hierdie jaar na ‘n deftige restaurant vat het om die dag ekstra spesiaal te maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button