Stropingsyfers moontlik aan die daal
Strategieë en toewyding in die renosterstropingsoorloë begin vrugte afwerp. Statistiek wys stropers is toenemend al hoe meer onsuksesvol.

KROKODILBRUG – Renosterstropery in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) is besig om te stabiliseer.
In 2015 is daar een minder renoster gestroop as die vorige jaar en vanjaar tot op datum op ‘n maand-tot-maand-basis is daar ongeveer ses persent minder renosters vir hulle horings afgemaai. Dit vergelyk goed met 2013 se syfers toe daar nog ‘n toename van 34 persent teenoor 2012 was.
So sê mnr. Frik Rossouw, senior ondersoekbeampte van die Nasionale Krugerwildtuin se omgewingsmisdaad-ondersoekeenheid. “Ons skryf dit toe aan die veldwagters se onbaatsugtige harde werk en alle ander pogings soos fondsinsamelaars van SANParke se ereveldwagters.”
Hy is ook veral trots op die harde werk wat sy eie span doen ten opsigte van die prosessering van stropingsmisdaadtonele. “Ons strategieë en toewyding begin vrugte afwerp,” het Rossouw aan Laevelder tydens ‘n Rhino Tears/SANParks Honorary Rangers mediatoer gesê. “Die stropers is toenemend al hoe meer onsuksesvol.”
Rossouw het op verskeie veranderinge aan beide groepe betrokke by dié stropingsoorloë gewys. Waar dit voorheen hoofsaaklik vir oorlewingsredes was, is dit nou toenemend vir geldelike gewin. Stropery ter wille van oorlewing in terme van kos op die tafel kom in ‘n mindere mate voor. Hierdie eens bestaanstroping is die wegspringblok vir baie renosterstropers.
Misdadigers is oor die algemeen nou jonger en nie meer net bosslaghuisstropers nie, maar eerder kriminele wat vantevore by meer ernstige misdade soos diefstal en rooftogte betrokke was.
Sedert Projek Rhino 1 in die NKW begin het, was daar 7 128 voorvalle waarby stropers betrokke was. Sowat 2 466 hiervan het in 2015 plaasgevind. ‘n Voorval verwys na spore gevind, skote aangemeld, stropingstonele gevind en stropers gearresteer.
Rossouw het gesê vir sy span is een van die grootste uitdagings om so gou as moontlik by ‘n renosterkarkas uit te kom voordat die misdaadtoneel deur hiënas en aasvoëls beskadig word.
“Danksy SANParke se ereveldwagters kon ons onlangs ‘n veldvoertuig in werking stel wat dit vir ons moontlik maak om vinniger en makliker by misdaadtonele uit te kom,” het Rossouw gesê.
Die eenheid het ook sedert 1994 drastiese veranderinge ondergaan om die toenemende misdaadprobleme in die NKW die hoof te bied. In 1994 het die eenheid uit twee lede bestaan.
Sedert stroping ernstige afmetings in 2006 begin aanneem het, het die eenheid tot ongeveer 20 lede landwyd uitgebrei.
Die span moet 22 seksies in die NKW ondersteun deur inligting in te win en te versprei vir voorkoming en bekamping van renosterstropery, bewyse bymekaar te maak en opvolgonderhoude te voer om taktiese inligting te bekom.
“Tegnologie speel ‘n besliste rol in die nuwe manier om misdaadtonele te ondersoek. Min dinge maak my so gelukkig soos ‘n vars toneel waar ons bewyse soos skoenafdrukke, vingerafdrukke en menslike DNS kan versamel wat ons kan gebruik om stropers vas te trek,” het Rossouw gesê.
Danksy dr. Cindy Harper, van die veterinêre genetiese laboratorium van die Universiteit van Pretoria kan DNS-profiele nou saamgestel word van ‘n renosterhoring. Profiele word op ‘n databasis gestoor en is beskikbaar vir vergelyking. DNS-insameling van renosters geskied deurlopend in die wildtuin en word ingevoer. Sagteware is spesifiek hiervoor ontwikkel.
Vir Rossouw is dit bemagtigend dat twee staatsaanklaers in Mpumalanga en Limpopo alle renosterstropingsake hanteer. Howe is ook meedoënloos in hul toepassing van vonnisse.
‘n Renosterstroper kan op uiteenlopende klagtes voor die hof verskyn en vonnisse van 18 tot 40 jaar opgelê word.
Rossouw het uitgewys dat veldwagters se rol die afgelope paar jaar drasties verander het tot waar hulle vandag uitsluitlik die renosteroorlog baklei. In 2014 het hul bydrae tot 174 arrestasies van stropers in die NKW gelei.
Volgens Rossouw maak die feit dat wapens van stroper tot stroper aangegee word, dit dikwels moeilik om ‘n arrestasie te maak.
“Die wapen is nie meer in die skuldige se besit nie, al kan ons bewys hy het die misdaad daarmee gepleeg.”
Rossouw het beklemtoon dat daar in 1970, 65 000 swartrenosters in Sub-Sahara Afrika was. Vandag is daar skaars 3 500. Ons kan nie bekostig om nog ‘n enkele een te verloor nie,” het hy gesê.
Die vraag na renosterhoring vir die maak van juweliersware, ornamente en statussimbole soos meshewwe sowel as om fyngemaal te word vir ‘n breë-spektrum medisinale gebruike, is aan die toeneem.
Voeg daarby die mistasting dat dit vir medisinale doeleindes soos vir kanker en ‘n tam libido gebruik kan word en daar is nóg ‘n mark om dit in te verkwansel.
Wêreldwyd is die onwettige handel in diere en diereprodukte die vierde grootste misdaad en word dit net deur dwelms (grootste), wapens en mensehandel geklop.
“Die Krugerwildtuin het ‘n ongeveer 1000-kilometer grens wat bewaak moet word.
“Gegewe waarteen hulle veg en hierdie afstand, is die veldwagters se prestasie om die aantal renosters wat gestroop word om te draai, werklik merkwaardig,” het Rossouw gesê.
‘n Tipiese renosterstropingspan bestaan uit twee tot vier persone wat oor goeie bosvaardighede beskik, op driedaagse ekskursies die wildtuin binnegaan en dit ook snags binnekom.
Hulle filtreer gemeenskappe om inligting te kry en gebruik hoë bespiedpunte soos die Lebomboberge. Een wapen word deur verskillende groepe gebruik.
Oor die vraag of renosterhandel en handel in renosterprodukte gewettig moet word, het Rossouw gesê dat “enige iets wat renosters kan red, die moeite werd is om objektief ondersoek te word”.
Foto’s: Ravi Gajjar.
