Hard newsLocal newsNews

Renosterwesie kry hulp vir oortjies afgevreet deur hiënas na nagwaak by ma

Beseerde renosterwesies kry 'n tweede kans by Care for Wild Africa maar so tussendeur die hartseer is daar ook vervullende oomblikke vir die versorgers.

MBOMBELA – Die afgelope paar weke het renosterwesie-pionier Petronel Nieuwoudt, haar span vrywilligers van Care for Wild Africa asook medewerkers bontgestaan om aan twee renosterwesies, Twinkle en Lulu, ‘n tuiste in hul renosterboshospitaal en -toevlugsentrum te bied.
Die 10 dag oue Lulu het op 17 April verdwaas en verlore sonder haar ma naby die Phabeni-hek in die NKW rondgedwaal. Tydens ’n patrollie teen skemertyd die vorige dag is haar ma se karkas deur die helikopterloods raakgesien. As gevolg van swak lig kon geen spore egter gevolg word nie.2016-04-19 11.13.52 (Small)
“Moenie in die wonde vaskyk nie,” sê Petronel toe ons by Lulu in die oppaskamer kniel om haar ‘n bottel te gee. Op ‘n kundige manier help sy een van die vrywilligers, Dorota Ladosz, om die renostertjie se winde uit te vryf.
Die beseerde was ‘n nag lank alleen in die veld en gedurende dié tyd het hiënas haar oortjies afgevreet en happe vleis uit haar bene geskeur. Die ernstige en diep wonde is knap deur die kundige span veeartse en medici verbind wat haar dieselfde dag van ‘n gewisse dood gered het. Petronel is bekommerd dat Lulu ‘n gedeelte van haar gehoor verloor het.
“Omdat hulle nie so goed sien nie, is ‘n renoster se gehoor baie belangrik.”
Hiervan is Petronel meer seker as ooit tevore. Sy was ‘n ruk gelede by ‘n lodge waar sy aan wildbewaring-studente klas gegee het. Daardie nag in haar losstaande huisie kon sy glad nie slaap nie vanweë renosters wat buite rondbeweeg het. Toe sy die volgende oggend opstaan, het ‘n uitgegroeide renosterbul op haar stoep, met sy snoet en horing teen die skuifvenster gedruk, gelê.
Toe sy met hom begin praat, het sy gou agtergekom dat hy haar stem herken. Na ‘n gesprek met die eienaar van die lodge kon sy die ou grote plaas. Hy het sewe jaar gelede as baba na die toevlugsentrum gekom nadat sy ma geskiet is en het tot op 18 maand oue ouderdom sy pote by Care for Wild Africa gevind. Daarna is hy terug na sy plek van oorsprong uitgeplaas en op ‘n veiling op Bela-Bela deur die eienaar van die lodge gekoop.
Vir Petronel, wat al soveel van die ikoniese diere weer in die stroom van die lewe terug geplaas het, het dinge in plek geval. Dit was Dino wat haar kom opsoek het!
“Ek was in trane. Dis juis hieroor dat ek weet ‘n renoster se gehoor is uitstekend. Hulle het opregte harte wat niks vergeet nie. Renosters hou jou nederig.”
Hierdie geharde bewaringsvegter praat met dieselfde teerheid oor Twinkle. Sy is tydens die Paasnaweek in die NKW gevind nadat haar ma deur stropers doodgemaak is. Sy moes ook in ‘n vorige skermutseling met stropers gewees het want sy het ‘n ou wond op haar rug gehad.
Vandag kom sy die eerste keer uit haar veilige tuiste in die boma se afsonderingshokkies om in die oopte onder die bome te wei. Sy is ietwat lugtig toe sy die ander vier jong renosters in die omheinde kampie sien, maar draf dapper en spelerig nader. Binne ‘n paar minute is sy deur Don, Warren, Oz en LoFo in die groep opgeneem.
“Wat ‘n gelukkige kaboutertjie is sy nou,” sê Petronel nadenkend. “Dit maak al die opofferinge die moeite werd.”
Sy het groot respek vir die spanne wat haar help soos twee veeartse, drs. Markus Hoffmeyer en Ferreira du Plessis, sowel as drs. Noelene du Plessis, ‘n wondspesialis en Jan Louis Ras, ‘n chirurg, wat alhoewel hulle mediese dokters in Mbombela is, inspring om handjie en skalpel te kom bysit.
“Hulle onbaatsugtigheid is eindeloos. Om met renosters te werk, in watter hoedanigheid ook al, is harde werk. Dis van die teater na die bos vir die medici soos Du Plessis en Ras, maar dis nooit te veel vir hulle nie.”
Om aan die wesies ‘n nuwe lewe vry van pyn te bied, bly Petronel se oogmerk. “Ons wil hulle so gou as moontlik na die trauma in ‘n veilige ruimte kry sodat hulle gemaklik kan wees en sonder pyn kan herstel.”
Vir vrywilligers wat instaan om die vierpotige pasiënte en die inwoners van die herstelkampe te versorg, het sy eindelose respek. Dorota Ladosz van Pretoria en Jason Kleyn van Mbombela het juis elke aand by Lulu geslaap om haar rustig te hou.
Nie elke wesie oorleef nie. Petronel moes ook al moeilike besluite geneem het oor ‘n paar ernstig beseerdes wat aan haar sorg toevertrou is. “Ek wil nooit in my lewe in ‘n posisie kom waar ek God moet speel nie. Ek respekteer die Here in sy besluite.”
Petronel se droom is om soos die bewaringsghoeroe, wyle Ian Player, ‘n toevlugsone daar te stel waar intensiewe bewaring gedoen kan word.“’n Plek waar elke outjie gelukkig, vry en gesond kan wees.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button