Laevelder se redaksie rol moue op vir renosters
Die onderskeie afdelings van Laeveld Media is tans elkeen besig met uitreike na verskeie nie-winsgewende organisasies in die Laeveldse gemeenskap
MBOMBELA – Die span by Care for Wild Africa werk regtig hard. Daarvan kan Laevelder se redaksie nou eerstehands getuig nadat hulle Vrydag daar gaan help het as deel van dié koerant se 130ste verjaarsdagvieringe.
Die redaksie het gewis vlytige vingers wat sweef oor ‘n rekenaar se sleutelbord soos ons stories tik en bladsye uitlê, maar lede het maar gekreun en gesteun toe hulle ‘n graaf en hark moes inspan om die renosters se hokke skoon te maak.
Die onderskeie afdelings van Laeveld Media is tans elkeen besig met uitreike na verskeie nie-winsgewende organisasies in die Laeveldse gemeenskap. Laevelder het al talle berigte oor die onderskeie diere in Care for Wild se sorg geplaas.
Die koerant se redaksie het dan ook nie gehuiwer om uit te reik na dié organisasie wat telkens om skenkings vra om onder meer die renosterkalfies wat weens stroping wees gelaat is, groot te kry nie.
Lees ook: Rhino baby seeks help from vehicle
Dis moeilik om met ‘n gewone voertuig die grondpad na Care for Wild aan te durf. Working on Fire het egter ‘n voertuig wat tot 25 werknemers kan vervoer én ‘n bestuurder beskikbaar gestel wat die redaksie vinnig en veilig daarheen gebring het.
Petronel Nieuwoudt, stigter van die organisasie, het die kalfies, waarvan die ouderdomme wissel tussen ‘n paar maande tot ‘n paar jaar, se onderskeie bomas gewys waar hulle snags slaap. Die swartrenosters se boma is toe van hoek tot kant skoongemaak. Kilogramme mis is met grawe opgetel en weggery.
Al die blare en takke wat hulle die vorige aand kaalgevreet het, is ook bymekaar gehark. Hierna moes die redaksie hooibale tel en regpak. Hulle het ook skoonmaakmiddels, komberse, harke, ‘n kruiwa, patats, sponsies, T-hemde en lekkergoed vir die werkers geskenk – items wat hulle daagliks nodig kry en waarvan hulle baie gebruik.
Charlotte Rossouw, woordvoerder van Care for Wild, het die span bedank vir die bydraes. “Ons is baie dankbaar. Dit was pret om saam met hulle te werk en die boma skoon te maak. Die personeel was baie bly oor die lekkergoed en die ander bydraes gaan nog groot vrugte afwerp.”










