Vrou wat ander inspireer voer stil stryd teen diabetes
"Hoekom vat U my net nie? Ek is moeg gesukkel."

MBOMBELA – ‘n Juffrou van Laerskool Nelspruit, Janine Kruger (39) sukkel sedert sy twee jaar oud is, met diabetes na ‘n keesbobbejaan haar gebyt het. Uitermatige spanning kan glo suikersiekte by kinders veroorsaak.
Sy is lid van Nedbank LVCC Marathonklub en haar spanmaats wil tydens die Comrades Marathon aan die einde van Mei vir haar geld insamel sodat sy ‘n insulienpompie van R50 000 kan koop. Dit sal haar lewenskwaliteit drasties verbeter.
Kruger het graad vier nierinkorting. Haar dokter het haar aangeraai om nie meer as 10km op ‘n slag te hardloop nie, maar sy vertel dat dit haar aandag van die siekte aftrek. “Ek het nog nooit voorheen ‘n Comrades gedoen nie, maar ek gaan elke jaar as ‘n ondersteuner saam. Dit is enige atleet se droom, maar ek weet nie of ek dit gaan verwesenlik nie. Ek is so op my senuwees – dit sal so ‘n groot verandering wees om ‘n insulienpompie te dra. Ek hou nie van verandering nie, maar ek sal nie weet as ek nie probeer nie.”
Mark Greeff, voorsitter van Nedbank LVCC saam met Fanie Bekker en Justyna Porter het met die inisiatief opgekom om vir Kruger tydens die Comrades geld in te samel. “Sy is ‘n baie spesiale persoon, ‘n toegewyde onderwyser en ‘n ongelooflike vriendin. Sy is ‘n mentor en ‘n groot inspirasie vir die klub. Ons nooi die gemeenskap en plaaslike ondernemings uit om hande te vat om geld vir Janine in te samel, al is dit net ‘n rand ‘n kilometer.”
Die 39-jarige se pankreas werk glad nie en elke keer as sy droog of nat oor haar lippe sit, moet sy haarself spuit. “Vir water, rooibostee en blaarslaai hoef ek myself nie te spuit nie,” lag sy.
Toe sy klein was, het haar gesin een middag by vriende gaan kuier wat ‘n bobbejaan as troeteldier aangehou het. Daardie dag was die gedierte nie in sy hok nie, en het haar onderstebo geduik. “Die res van die gesin is blakend gesond. Ons vermoed dit is as gevolg van die skok dat ek suikersiekte het. Ek sukkel ook met my bloeddruk en cholesterol en daarvoor moet ek ook ‘n spesiale dieet volg. Dit is vir my sleg dat iemand anders my wil help, want gewoonlik is ek die een wat ander wil help.”
Haar eerste halfmarathon was die Loskop in April en sy vertel ewe in haar noppies dat sy haar tyd van verlede jaar met sewe minute verbeter het. Sy het reeds vir die Selati Kaftan ingeskryf, en die Skukuza Castle Lager en Kaapsehoop 3-in-1 is ook op haar hardlooplysie vir die jaar.
In 1992 is sy na die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir naellope uitgenooi, maar haar siekte het dit nie toegelaat nie. Sy is nou al 11 jaar lid van LVCC.
‘n Insulienpompie sal haar suikervlakke tussen vyf en agt hou en hopelik verhoed dat sy nierversaking kry. “Dit is ‘n permanente drippie wat ek sal moet dra. My gemoedsvlakke was al baie laag want as ek siek word, word ek gewoonlik vir vyf dae in die hoësorgeenheid opgeneem. Elke keer staan ek op en moet van voor af begin. Ek is lief vir die lewe. Die Here kan my maar enige dag vat, ek het my lewe ten volle geleef.”
Sy is ‘n oud-Vrystater wat by die Bloemfontein Onderwyskollege studeer het en is al 11 jaar by Nellies.
Belangstellendes kan Greef by 083-299-3779 vir meer inligting skakel.

