AnimalsLocal newsNews

Beskuldigings, toutrekkery en moddergooiery tussen DBV’s lei tot bedankings

Beskuldigings oor bemakings, bewerings oor leuens en toutrekkery oor fondse het tot die bedanking van die Nelspruit DBV se bestuurskomitee gelei en nou het die DBV-inspekteur ook boonop bedank.

MBOMBELA – Onderlinge spanning tussen twee takke van die DBV oor die onlangse skeiding daarvan, toutrekkery oor beskikbare fondse, oor en weer beskuldigings oor bemaking, sowel as ‘n moddergooiery oor beweerde leuens en wanbestuur, blyk deel van die probleem te wees wat gelei het tot verskeie opspraakwekkende gebeure en skuiwe verlede week by die stad se tak.

Die hele bestuurskomitee het verlede week, na die bedanking van die voorsitter mnr. Louie Amorim, óók kennis gegee. Die komitee het uit mnr. Arnold Sebastian, me. Stacey Amorim Greyvenstein, me. Jessy Moodley en me. Linda Beetge bestaan.

Die inspekteur van die Nelspruit DBV, mnr. Deon Combrinck, het ook sy bedanking ingegee.

Die gebeure volg op die Barberton DBV-inspekteur, me. Marcel Hoffman se verslag aan die hoofkantoor oor oorvol hokke by die Nelspruit-tak wat daartoe gelei het dat meer as 80 diere uitgesit moet word.

Amorim sê dat die DBV-welsynwinkel ook sy deure sal moet sluit. Die datum sal bepaal kan word nadat huurkontrakvoorwaardes nagegaan is. ‘n Familielid van Amorim, me. Judy Raath, bestuur tans die winkel. Volgens hom het die winkel net gelyk gebreek en is die geringe wins vir salarisse en uitgawes gebruik.

In ‘n onderhoud met Laevelder het hy daarop gewys dat die Nelspruit DBV geen bystand van die nasionale kantoor ontvang het nie. Hy weerlê beskuldigings dat daar geen fondsinsamelings gedoen is nie deur te verduidelik dat ‘n 2014-tekort op die balansstaat van die DBV Nelspruit van meer as R500 000 tot net meer as R12 000 in 2016 afgebring is. “Dit wys mos daar is fondsinsameling gedoen!” sê hy.

Die 2015/16 finansiële state van die DBV Nelspruit wat tans gefinaliseer word, wys egter laste van bykans R400 000. In 2014 het dié bedrag min of meer R250 000 beloop.

Een van die groot twispunte is dat die skeiding van die Mbombela- en Witrivier-takke verantwoordelik is vir die stad se krisis, ‘n feit wat beide deur hoofkantoor en Witrivier betwis word.

In ‘n verklaring aan die DBV-hoofkantoor verwys Amorim na ‘n R30 000-bemaking wat deur Nelspruit DBV in 2015/2016 ontvang is en volgens hom aan Witrivier oorbetaal moes word. Me. Estelle de Villiers, voorsitter van die Witrivier DBV, ontken dat die bemaking ooit deur haar tak ontvang is. Die nasionale hoofkantoor het dit bevestig.

Sy ontken Amorim se bewering dat die Witrivier DBV ‘n las op die Mbombela-tak is. “Dis geheel en al onwaar. Sedert die nuwe komitee vroeg in 2016 oorgeneem het, was Witrivier in staat om al sy lopende uitgawes te dek en verbeteringe aan die hokke aan te bring. Tegnies-gesproke skuld die Nelspruit DBV ons geld,” sê De Villiers.

Sy wys daarop dat in ooreenstemming met die nasionale hoofkantoor is daar in 2015 besluit dat die twee takke vanaf 1 April 2016 apart sal funksioneer. Tot hierdie datum was die Nelspruit DBV verplig om alle salarisse en uitgawes te betaal. Die tak het egter nie hierdie ooreenkoms nagekom nie. Witrivier is hierdeur in ‘n krisis gedompel deurdat fondsinsameling inderhaas gedoen moes word om vir Februarie en Maart 2016 ongeveer R50 000 te verkry.

Amorim sê dat Nelspruit DBV as gevolg van sy eie finansiële probleme nie die oorbetalings aan Witrivier kon maak nie. Hy wys daarop dat Witrivier DBV die finansiële jaar in 2016 begin het met geen laste en R50 000 in die bank terwyl Mbombela laste van R390 000 gehad het sowel as ‘n oortrokke rekening van R60 000.

“Nelspruit DBV se slegte finansiële toestand kan net toegeskryf word aan swak bestuur,” beklemtoon De Villiers.
Mnr. Jaco Pieterse van die DBV se hoofkantoor het aan Laevelder bevestig dat Nelspruit nie by oorspronklike ooreenkomste gehou het nie.

“Die ooreenkomste is aangegaan sodat die Witrivier DBV weer op hul voete kon kom aangesien hulle slegs ‘n bankbalans van R3 000 sou hê toe hulle apart begin funksioneer het.”

Pieterse is vol lof vir die wyse waarop die veel kleiner Witriviergemeenskap hande gevat het in 2016. “Die Witriviertak was in ‘n kort tydjie in staat om hulself op te bou. Dit wys jou wat gedoen kan word wanneer jy ‘n toegewyde en betrokke komitee het,” sê Pieterse.

Kommer is uitgespreek oor die bedanking van Amorim en sy komitee deur mnr. Hughie Lyle, die oorspronklike stigter van die Nelspruit DBV in 1960. Lyle was vir meer as 33 jaar betrokke op die komitee en ook as voorsitter. Hy kon daarin slaag om die boeke deurgaans te balanseer.

“Ek voel Louie het ‘n sonderlinge prestasie behaal deurdat hy tekorte wat vanaf 2000 tot Julie 2014 jaarliks opgeskuif het tot R500 000, in 2015 na R277 000 afgebring het. Ek dink hy en sy komitee het uitstaande werk gelewer,” sê Lyle.

Pieterse het bevestig dat, ten spyte van al die bestuurs- sowel as finansiële krisisse, die diere by Nelspruit DBV danksy bystand van omliggende DBV’s en hoofkantoor, se welsyn nie benadeel is nie.

In die interim subsidieer die nasionale hoofkantoor van die DBV die lopende uitgawes van die Nelspruit DBV.

Met die oog daarop om ‘n nuwe bestuurskomitee te kies word ‘n vergadering op 15 Junie om 16:00 gehou by ‘n lokaal wat nog aangekondig sal word. Pieterse versoek dat belangstellendes wat deel van die komitee wil word (sakemense welkom) ‘n kort CV stuur aan liaison2@nspca.co.za of faks na 011-907 4013 voor 7 Junie 2106.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button