Wilde perde vrek by Kaapsehoop omdat hulle verkeerde kos gevoer word
Die wilde perde van Kaapsehoop is blootgestel en weerloos teen toeriste wat hulle verkeerde kos voer, botsings langs die pad en Afrika Perdesiekte.
KAAPSEHOOP-Die trop wilde perde by Kaapse Hoop is die afgelope paar weke ‘n dubbele slag toegedien toe ‘n vul gevrek het omdat sy koliek gekry het van iets onverteerbaar wat sy gevreet het. ‘n Merrie het ook as gevolg van perdesiekte gevrek.
Reinette van Niekerk, is ‘n vrywilliger wat al meer as tien jaar “ma” staan vir die perde in Kaapse Hoop. Sy raak heftig as sy haar die arme diere se lyding voorstel.
“Koliekvrektes gebeur veral na ‘n langnaweek. Besoekers voer die perde kos wat koliek veroorsaak en hulle blaas op. Mettertyd is daar vir hulle geen ander uitweg as om te gaan lê en rondrol om die pyn te stil nie. Dis ‘n erge, wrede dood,” sê Reinette.
Die vul het tot die ontsteltenis van ‘n inwoner voor die hek van ‘n huis in die dorp ineengestort. Haar karkas is deur ‘n vrywilliger weggesleep.
Reinette vra dikwels self besoekers om nie die perde te voer nie. Daar word eenvoudig nie ag geslaan op haar versoek nie. Besoekers raak selfs aggressief as sy hulle aanspreek.
“Onlangs het ek met ‘n vrou ‘n argument gehad omdat sy ‘n hele pak koekies aan ‘n perd wou gee en toe beland die plastiese omhulsel ook in sy bek,” sê van Niekerk.
Die dooie vul was een van die dorp se “bedelperde”. “ Twee troppe bedel kos die dorpstrate en eet uit asblikke. “Dié gewoonte is die slegte gevolg van hulle aangeleerde smaak vir soetgoed,” sê Reinette.
Die grootste gevaar is wanneer die perde plastiese verpakkingsmateriaal inkry. ‘n Perd het nie die vermoë om te braak en dus van ongewenste materiaal in sy pens ontslae te raak nie.
“Ek wens ons kan ‘n borg kry om kennisgewingsborde in die dorp op te sit wat mense versoek om nie die perde te voer nie.”
As dit dan moét, sê Reinette, gee nét wortels en appels.
Iemand het juis onlangs voorgestel dat die twee produkte in die dorp by die stalletjies verkoop word sodat besoekers opgevoed kan word.
Van Niekerk se ander hartseer is die voortslepende stryd teen Afrika Perdesiekte (APS). Reeds sedert Januarie vanjaar het 11 hingste en twee merries as gevolg van APS gevrek. “Dit is moeilik om te aanskou, maar ook die natuur se manier om die trop uit te dun.”
APS is ‘n aansteeklike siekte wat veral diere tref met ‘n verswakte immunstelsel. Veral die dorptroppe eet dikwels afval uit asblikke wat hul weerstand verlaag.
Die siekte word veroorsaak deur ’n dodelike en hoogsaansteeklike virus. Dit word meestal by perde, donkies, muile en sebras aangetref. Die virus word deur insekte veral muggies versprei. Die simptome is hoë koors en asemhalingsprobleme en daar kan ’n skuimerige vloeistof rondom die neus en bek wees. Die dier vrek gewoonlik binne 24 uur.
Kommer is deur ander perde-eienaars in die omgewing uitgespreek oor die periodieke uitbreek van APS onder die wilde perde. ‘n Woordvoerder van DARDLEA wat die beweging van diere na perdesiekte beheerde areas soos die Wes-Kaap kontroleer, sê dat die uitbreek van APS in spesifieke areas ander perde-eienaars kan benadeel.
Sulke perde sal nie na die Wes-Kaap vervoer kan word, vir teeldoeleindes daar gebruik kan word nie en ook nie aan kompetisies mag deelneem nie.
Volgens die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984) moet alle perde tussen 12 en 18 maande en elke jaar daarna geimmuniseer word deur soos die wet stel “die verantwoordelike persoon.” Laasgenoemde word in die Wet se regulasies geidentifiseer as die eienaar of bestuurder van die land waarop die diere voorkom of die eienaar van die diere.
Tans neem niemand verantwoordelikheid vir die eienaarskap van die trop wilde perde wat meesal in die plantasies rondom Kaapse Hoop wei en stap nie.
Daar is geen verpligting op DARDLEA om perdesiekte-gevalle op te spoor nie, maar enige geval van perdesiekte moet wel aan die staatsvee-arts rapporteer word.
Ten spyte van verskeie versoeke is daar geen kommentaar van die departement Dieregesondheid of die staatsvee-arts se kantoor ontvang oor hoe die wet ten opsigte van wilde perde toegepas moet word nie.
