Wildtuinkerk vier 30 jaar van groei in “God se Tuin”
Die enigste pastorie ter wêreld in 'n wildtuin word in Skukuza in die Nasionale Krugerwildtuin gevind. Dis juis by die Krugerwildtuin Gemeente wat daar onlangs 30 jaar van bestaan gevier is.

SKUKUZA – Met sy kenmerkende reusekoorsboom en rooibokkies af en toe neffens die houtkruis voor die kerk, kan ‘n mens die Krugerwildtuin Gemeente in Duikerstraat nie sommer met enige ander kerk verwar nie. Die twee bakens is die simbole wat die ontstaan en bestaan van hierdie kerk kenmerk.
Ook van die redes hoekom die nederige leraar, ds. Carl Louwrens dié gemeente “die kerk in God se tuin” noem.
Dit was 30 jaar saam met God in sy tuin wat Louwrens en bykans 120 kerkgangers van heinde en verre ‘n paar Sondae gelede gevier het toe die herdenkingsdiens plaasgevind het.
Meer as 30 hiervan was oudlidmate, onder andere dr. Salomon Joubert, voormalige hoof van die Nasionale Krugerwildtuin en sy vrou. 
Dr. Vossie de Vos en mnr. Hans Meyer, lede van die boukommissie wat die kerk gebou het, en onderskeidelik die eerste ouderling en diaken, het dit ook bygewoon.
Die diens was ‘n spesiale geleentheid vir me. Annette Pienaar, eggenote van wyle dr. Tol Pienaar, hoof-uitvoerende beampte van die destydse Parkeraad. Sy is die ouma van een van die jongmense, Leon Pienaar, wat tydens die diens belydenis van geloof afgelê het. Mnr. Jannie Geldenhuys, hoof van Laerskool Skukuza, se seun, Henco het ook belydenis van geloof afgelê.
Wanneer jy met Lourens gesels oor die afgelope 24 jaar wat hy Sondae die preekstoel met die kanselkleed waarop “U Woord is U Waarheid” met ontsag betree het, raak hy maklik aangedaan oor die Goeie Boodskap wat verkondig is.
Op die herdenkings-Sondag het hy ‘n preek oor hoop as een van die ankers in ons lewens gepreek, juis ‘n beeld van wat die wildtuinkerk deur die jare vir vele in hulle lewens verteenwoordig het. Vele kleingoed is die wêreld gedoop ingestuur, huwelike is voltrek en ook die laaste afskeid is geneem.
“Ons moet altyd gereed wees om ‘n antwoord te kan gee aan elkeen wat ‘n verduideliking vra van hierdie hoop wat ons het. Dit word die geloofsverhale wat ons deur die jare vertel en aan die jonger geslag oordra.”

Tydens die herdenkingsdag is ‘n koorsboom as ‘n plaasvervanger geplant vir die dag wat die geliefde ou reus langs die kerk dalk gaan omval. Henco Geldenhuys en Leon Pienaar het die boom geplant. Dit is heel gepas want aanvanklik is die eerste eredienste in die laat sestigerjare onder ‘n doringboom by die eerste huise in die personeeldorp gehou.
Rondom 1969 is daar vir die eerste aan ‘n eie kerkgebou vir Skukuza gedink. Op 10 Januarie 1972 is die eerste sooi gespit. Die groot dag het op 9 September 1972 aangebreek toe die hoeksteen deur dr. Vossie de Vos gelê is.
Dr. Hercules van den Berg is as die eerste leraar beroep wat toe die Hazyview-Skukuza-gemeente was met ‘n kerksaal op Hazyview en ‘n kerkgebou op Skukuza.
Dis eers op 27 April 1986 wat die gemeente NG Kerk Krugerwildtuin op sy eie voete te staan gekom het. Ds. E. Friis, ‘n emeritusleraar, het die jong gemeente onder sy vlerk geneem. In Januarie 1987 is ds. CP Marais as die eerste voltydse leraar bevestig en die gesin het by Buffelstraat 51 ingetrek, die enigste pastorie ter wêreld wat in ‘n wildtuin is.
Die gebou is gou vir alle gelowiges beskikbaar gestel en ‘n interkerklike komitee van kerkleiers is in die lewe geroep.
Op 12 Januarie 1992 is die huidige leraar ds. Carl Louwrens as tweede leraar bevestig. Vir hom is dit ‘n hoogtepunt dat die uitdra van die Evangelie na Mosambiek in 1992 ‘n werklikheid geword het. Die gemeente is steeds by hierdie gemeenskappe betrokke.
In die begin 2000’s is die kerkgebou ook vir Shangaan-sprekende gelowiges vir hulle eie diens beskikbaar gestel.
Na baie gebede en strategiese beplanning rondom dalende lidmaatgetalle is nuwe projekte in die vroeë 2000’s in werking gestel soos die Provita-klub vir die kinders. ‘n Selgemeentebediening het ook ontstaan. Die kleiner gemeente het sy nuwe identiteit na ‘n paar jaar gevind.
In hierdie tydperk het die lede met ander denominasies verenig en word die gemeente ‘n gemeenskapskerk. Daarna het dit die Krugerwildtuin Gemeente geword met Engelse gelowiges wat inskakel omdat hul eie bedienings te klein geword het. Sedert 2105 word een diens in Engels gehou.




