Hard newsLocal newsNews

Kom ons stel die foute van die verlede reg sê Kwa Madwala se Van Eyssen

Kom ons gee mekaar 'n tweede kans het die bestuur van die Kwa Madwala se opleidingskool en ouers vir mekaar gesê 'n rukkie nadat die skool se sertifikate aan die einde van hul opleidingsjaar nie deure vir hul kon oopmaak nie. Nou, na 'n jaar, en die bystand van bekende oud-televisieaanbieder Joleen du Plessis, 'n betroubare en erkende CATHSETA-opleier in die kultuur en gasvryheidsektor, is die studente reg om hul man in die werkplek te staan.

MALELANE – Vyf vasberade studente het onlangs trots met sertifikate van die Cathseta-geakkrediteerde Alive @ Kwa Madwala-opleidingsakademie van voormalige televisie-aanbieder Joleen du Plessis weggestap. Dit nadat hulle ‘n jaar van indiensopleiding by Kwa Madwala voltooi het. Hulle is Darian-Lee Boucher, Monique Smit, Damiao Catingue, Carmen Levett and Sven Branders.

Dit was vier van hierdie studente se tweede jaar van indiens-opleiding aan Kwa Madwala, aangesien hul eerste jaar by die voormalige Safari Lodge School by Kwa Madwala hulle nie in staat gestel het om ‘n geakkrediteerde kwalifikasie agter hul naam te skryf nie.

Dié opleidingsinrigting van mnr. Conrad van Eyssen was in Desember 2014 in die nuus toe ouers gekla het dat hul fooie van meer as R50 000 betaal het maar dat hul kinders se kwalifikasies nie in die werkplek erken word nie.

Van Eyssen en die ouers het verlede jaar ‘n ooreenkoms bereik dat hy hulle gratis sou inneem en sorg dat die opleiding geakkrediteer en deur die regte instansies erken word. Dié kursus, wat akkommodasie, maaltye en opleiding as veldgidse en verskeie ander posisies in die gasvryheidsbedryf insluit, het betalende studente vanjaar meer as R80 000 gekos.

Hy het die hulp van Du Plessis ingeroep wat na 27 jaar in die bedryf ‘n betroubare en erkende opleier vir CATHSETA, die akkreditasie-liggaam vir die kultuur- en gasvryheidsektor sowel as assesseerder by SAQA, is. Du Plessis is ook ‘n ervare fasiliteerder in die toerismebedryf en toerisme-entrepreneur.

Sy het die geleentheid bygewoon.” Die studente se deursettingsvermoë, veral hul navorsingsvernuf en die toegepaste kennis wat hul openbaar het, het my beïndruk,” sê Du Plessis.

Mark Boucher, pa van een van die studente, het vrede gemaak met Van Eyssen en hom bedank dat hy die moed gehad het om van voor af met ‘n nuwe kursus te begin en toe te sien dat die kursus die nodige aansien en kundige insette verkry om geakkrediteer te word.

” Ons was nie altyd op die vriendelikste terme nie, maar nou is die strydbyle begrawe.Van Eyssen en die studente het hulself bewys deur hierdie jaar deur te sien. Ons het almal hierdeur geleer,” het hy gesê.

Vir Sally Levett, Carmin se ma, was dit ‘n lang pad saam met haar dogter en studente-vriende tot en met die oomblik dat hulle die sertifikate kon vashou, maar sy dink ook dat die ervaring almal veel van tweede kanse geleer het. “Ek kan skaars glo hoeveel ryper die kinders geword het. Hulle tree so volwasse op!”

Studente het ‘n driegangmaaltyd wat hulle self voorberei het op ‘n keurig gedekte tafel voorgesit. Vroeër het Sven Branders gaste tydens ‘n wildbesigtigingsrit met sy kennis oor die veld beïndruk.” Ek dink ek het my plek in die bedryf tydens hierdie twee jaar gevind. Ek kwalifiseer nou as veldgids maar dit het my ook georienteer om verder in bewaring te studeer.”

Vir Van Eyssen is dit ‘n riem onder die hart om die span studente en hul ouers na soveel stampe en stote op hul toekomspadjie weg te stuur. “Die aanvanklike probleme het gekom omdat ons nie ons huiswerk gedoen het nie en vennote ingeneem het wat oorsee en nie plaaslik geregistreer was vir akkreditasie nie. Ons het ook die proses van registrasie by Fegasa verkeerd verstaan. Met Joleen aan boord kon ek dit regstel,” het hy verduidelik.

“Vir my gaan dit om potensiaal holisties te ontwikkel deur indiensopleiding en teoretiese kennis maar ook om praktiese ervaringgeleenthede vir die studente daar te stel. Hulle gaan nou afgerond die bedryf op die regte manier betree. Dit stel my gerus dat ons foute van die verlede kon regstel.”

Monique Smit
Monique Smit
Sven Branders
Sven Branders
Kwa MAdwala huisie (Small)
Kwa Madwala se eiesoortige veldhuisies vir gaste.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button