Kenner verduidelik grondeise aan plaaslike boere
Gasspreker spreek Agri Mpumalanga toe by jaarvergadering.

Boere in die omgewing van Kiepersol en Hazyview het onlangs die jaarvergadering van Agri Kiepersol gehou.
Visepresident van Agri Mpumalanga, mnr. Moorrees du Toit het dr. Theo de Jager as gasspreker genooi. De Jager is tans visepresident van Agri Limpopo. Hy is ‘n kenner van grondhervorming en het die boere toegespreek oor aangeleenthede daaroor.
De Jager het gesê die grondeis-debat kan nie geïgnoreer word nie en het aan die boere die 50/50-grondhervormingsprojek verduidelik. Hy het verduidelik dat landelike ontwikkeling en grondhervorming kortliks voorstel dat daar van alle boere vereis word om 50% van hul plase aan hul werkers af te staan.
Die plaaswerkers se aandeel sal aan hulle toegeken word in verhouding tot hul bydrae tot die ontwikkeling van die grond, gebaseer op die aantal jare wat hulle op die grond gewerk het.
Gevolglik sal werkers wat vir 10 jaar op die plaas gewerk het, 10% van die toegekende grond kry; diegene wat vir 25 jaar gewerk het sal 25% van die toegekende grond ontvang en diegene wat vir 50 jaar op die plaas gewerk het, sal geregtig wees op 50% van die toegekende grond.
De Jager het ook verduidelik dat die staat die 50% van die plaas wat aan die plaaswerkers toegeken sal word, koop.
Dit sal egter nie die geld aan die boer betaal nie, maar dit in ’n beleggings- en ontwikkelingsfonds betaal wat gesamentlik deur die partye wat eienaarskap van die plaas het, besit word.
Die fonds sal gebruik word om die bestuurs- en produksievermoë van die nuwe grondeienaars te ontwikkel, om verder in die plaas te belê asook om mense uit te koop wat nie meer deel wil wees van die nuwe eienaarskap nie.
De Jager het gesê dat die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, mnr. Gugile Nkwinti al in 2015 begin het met die “een huishouding, een hektaar”-projek waar ‘n huishouding een hektaar grond by die regering kry op ‘n gebruik-of-verloor-grondslag.
Die inisiatief moet help om ondermeer armoede te verlig en ‘n beter swart klas, kleinskaalse boere op koloniale grond, en vir diegene op staatsgrond te skep.
De Jager het ook iets wat
prof. Mohammed Karaan gesê het, gedeel. Karaan was vir die afgelope ses jaar die strategiese adviseur vir Agri-Vie asook die dekaan van die fakulteit landbou aan die Universiteit van Stellenbosch. Agri-Vie is ‘n privaat ekwiteitsbeleggingsfonds gefokus op voedsel en agribesigheid in Sub-Sahara-Afrika.
Karaan het in 2015 in die Landbou-weekblad oor landboupolitiek uitgebrei en gesê: “Daar is baie onsekerhede in die landbousektor, soos waterregte, ondoeltreffende besteding van begrotings en grondhervorming.
Die nasionale ontwikkelingsplan word nie tans effektief geïmplimenteer nie, maar het egter mense nodig wat bereid is om hul moue op te rol en die plan te maak werk.”
Karaan meen 2016/17 gaan in boere se geheues ingbrand word as ‘n draaipuntjaar wat ekonomie en politieke omwenteling betref, maar ook weens die droogte.
