Local newsNews

Automark ondersteun plaaslike kuns en kultuur

Musiekgroep Jonathan Peyper Trio gaan met trots die MK Rockverhoog betree tydens vanjaar se Innibos in Mbombela, danksy 'n borgskap van Malalane Automark.

MALALANE – As deel van hul gemeenskapsprojekte het Malalane Toyota en Automark besluit om die jong groep te ondersteun en het aan hulle ‘n Toyota Fortuner met die groep se kentekens en besonderhede geskenk.  Alhoewel die groep tans in Pretoria woon, is Jonathan Peyper oorspronklik van Mbombela, sy suster werksaam by Malalane Toyota en lede beskou die Laeveld en Mbombela as hul tweede tuiste.

Peyper en Jason Hinch het Dinsdagmiddag amptelik die kar ontvang en vertel dat hulle ontsettend dankbaar daarvoor is. “Dit help baie as mense so vrygewig is en dit is ongelooflik dat Malalane Automark die gemeenskap se kuns en kultuur ondersteun en help groei,” het Peyper gese.

Dit is hulle derde Innibos en hulle beplan om hierdie jaar die MK Rockrumoer-kompetisie te wen. “Dit druk ons om nog beter te doen en alles wat ons geleer het te gebruik om ‘n indruk te maak en mense te raak,” vertel Hinch.

“‘n Voertuig soos hierdie sit ons in ‘n ander klas en help om ons brand en besigheid te bou. Ek voel asof ons hierdie jaar nog meer na die verhoog gaan bring,” meen Peyper.

Peyper, Hinch en Chris van der Walt speel nou al drie jaar saam, maar het heelwat ondervinding in die bedryf. Peyper het al saam met Bok van Blerk en Jan Blohm gespeel, Hinch saam met Bloodbrothers, Albert Frost en Black Cat Bones en Van der Walt saam met laasgenoemde twee.

Die Jonathan Peyper Trio het al by die land se grootste rockfeeste soos Oppikoppie, Splashy Fen en Innibos opgetree en ook KwaZulu-Natal en die Kaap getoer. “Maar ons geniet dit altyd om na die Laeveld toe, ons tweede tuiste, te kom,” voeg hulle by.

Die groep het al ‘n selfgetitelde CD vrygestel en hoop om die Rockrumoer-kompetisie te wen sodat hulle die prysgeld vir hul volgende album kan gebruik.

Vir meer inligting oor die groep, besoek hulle Facebook-blad, Jonathan Peyper.

Innibos skop vandag af en sluit Sondag met ‘n gospelkonsert af. Vir Innibos nuus, foto’s en inligting, klik hier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button