Hings vrek in grusame botsing duskant Kaapsehoop
Reinette van Niekerk, vrywilliger wat na die welsyn van die wilde perde by Kaapsehoop omsien, vra dat diegene wat in botsings met die perde betrokke is, dit dadelik aanmeld.
KAAPSEHOOP-‘n Hings wat deel is van die Kaapsehoop-troppe is skemertyd Woensdagaand op die pad tussen Kaapsehoop en Ngondwana deur ‘n bakkie op hoë spoed getref en het na ‘n rukkie op die toneel gevrek.
Die botsing het plaasgevind net een kilometer weg van die kennisgewingborde wat onlangs opgesit is om motoriste te waarsku om spoed te verminder.
Hierdie gedeelte van die pad is bekend vir die perdevrektes wat as gevolg van botsings met motors gebeur omdat die perde die pad kruis om in die plantasies te gaan slaap of om in die veld daaroorkant te wei.
Die botsing is nie onmiddellik gerapporteer nie. Dit is eers gister aangemeld tot die ontsteltenis van die vrywilliger Reinette van Niekerk wat na die perde se welstand omsien.
“As dit onmiddellik gerapporteer word, kan ons die beseerde perde gaan soek en onnodige lyding voorkom. Hierdie perd het gely en dis wat my seermaak. Ek is dankbaar die bestuurder is nie beseer nie. Ek hoop dis ‘n leerproses vir diegene wat die pad dikwels gebruik en so gewoond is dat hulle nie meer op die uitkyk vir die perde is nie,” het Van Niekerk gesê.
Die perde se karkasse word gewoonlik in die plantasies ingesleep.

