Hard newsLocal newsNews

Dis nou oorlog in die Kruger!

Die 40-millimeter granaatwerperstelsels gaan die teenstropingseenheid in die NKW toerus om beter as ooit vantevore weerstand te bied.

PRETORIA – “Die feit dat die Nasionale Kruger Wildtuin (NKW) se teenstropingseenheid in die toekoms van 40-millimetergranaatwerperstelsels gaan gebruik maak, dui beslis daarop dat daar ‘n groot toename in die renosterstropingsoorlog is. Die eenheid is met hierdie skenking nou beter as ooit tevore toegerus om weerstand te bied. Ons verwag beter resultate as vantevore. Hierdie stelsels stel ons in staat om risiko’s uit te skakel en die stropers uit hul wegkruipplekke te jaag,” het genl. maj.(afgetree) Johan Jooste, SANParke se hoof van spesiale projekte, aan Laevelder gesê.

Die wapenvervaardiger Milkor het verlede week in Pretoria ‘n aantal van hierdie granaatwerpers aan SANParke se bestuur oorhandig om in die stryd teen stropers in die wildtuin te gebruik. ‘n Demonstrasie en opleiding in die gebruik daarvan sal eersdaags in die NKW aan veldwagters gegee word.

Beeldmateriaal van die Milkor reeks van produkte:

https://youtu.be/Dhzw2ri7-1w?list=PL9bcVkFhErhWu8VpQTlaqcEAb7S-fcSCz

Jooste het verduidelik dat die granaatwerpers gebruik sal word om stropers uit die bosse te jaag. “Dit sal verhoed dat ons veldwagters in die digte bosse hoef in te gaan en so hul lewens op die spel plaas. Die granaatwerpers is ‘n nie-dodelike wapen wat in ‘n beperkte area gebruik kan word en dus maksimum arrestasies kan verseker.”

In die granaat wat afgeskiet word, kan rook, traanrook, rubberkoeëls of selfs net ‘n afskrikmiddel wat ‘n reuselawaai maak, gelaai word. Die granaatwerper bied aan die gebruiker die bykomende voordeel, bo die van tradisionele granaatwerpers, deurdat dit deel van die hoofwapen of aanvalswapen kan vorm.

“Ons wil dit gebruik om die stropers aan die hardloop te kry.”

“Dit is deel van ons arsenaal wapens en metodes wat ons nou opbou om hulle aktiwiteite die nekslag toe te dien. Saam met die helikopters, honde en opgeleide veldwagters wil ons ‘n boodskap aan die stropers uitdra dat ons dit vir hulle moeiliker en moeiliker gaan maak om in te kom en renosters en olifante te stroop.

“Ons boodskap is: ‘Ons wil julle uithaal uit jul wegkruipplekke, gearresteer kry en aan die pen laat ry. Julle kan nie langer vir ons wegkruip nie’. Hierdie granaatwerpers maak dit vir ons baie meer moontlik as in die verlede om uitvoering aan hierdie boodskap te gee.”

Mnr. André da Silva, bemarkingsbestuurder van Milkor, sê dat die wapenvervaardigingsmaatskappy ‘n pionier is in die vervaardiging van dié soort granaatwerpers wat aan SANParke geskenk is.

“Ons wil by die stryd teen stropers betrokke raak en het SANParke genader om ‘n demonstrasie van die wapen te gee. Dit is ‘n wapen wat geskik is vir hul omstandighede. Dis nie-dodelik en kan die stropers uit die bosse opjaag. Hulle kan dus nie meer wegkruip en dan wegkom nie.”

Hy het beklemtoon dat van die granate se inhoud wat gebruik gaan word, is byvoorbeeld “groen” traangas wat nie ‘n uitwerking op mens of dier sal hê nie.

“Ons wil deel wees van hierdie waarskuwing aan stropers om uit die wildtuin weg te bly. Die veldwagters is nou beter as vantevore toegerus. Ons sal ook voortgaan om wapens aan te pas om die teenstropingseenhede doelgerig te versterk,” het Da Silva gesê.

Meer as 60 000 van die stelsels is reeds wêreldwyd deur Milkor verkoop. Tydens die oorhandiging van die wapens in Groenkloof verlede week, het SANParke se uitvoerende-hoofbestuurder, Fundisile Mketeni, Milkor bedank en gesê dat die tyd aangebreek het vir almal om op te staan en hande te neem om ons erfenis te bewaar. “Ons sal na nuwe en verbeeldingryke metodes moet kyk om die voortslepende aantal inkursies in die NKW die hoof te bied. Ons het geen keuse as om die oorlog te wen en hoop aan die bewaringswêreld te bied nie.”

In die eerste vier maande van 2015 was daar 808 inkursies in die NKW deur stropers. Vanjaar vir dieselfde tydperk was daar 1 038. Daar is dus ‘n toename van 28 persent, met ander woorde, waar daar verlede jaar sewe inkursies per dag was, was daar vanjaar sover nege per dag.

Van Januarie tot April 2015 is daar 302 renosters gestroop teenoor die 232 vir dieselfde tyd vanjaar, ‘n afname van 23 persent. Dié jaar tot op datum is daar 363 renosters in totaal in die land gestroop, volgens statistiek van die Departement van Omgewingsake.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button