Mbombela-hondevanger tel hond met afgebreekte bene uit donga op
Van 'n lewendige hond met afgebreekte bene uit die behoeftige buurte van Mbombela tot die meer wel-af strate waar 'n hond met 'n kankeragtige gewas gekonfiskeer is, het die DBV verlede week ingespring. Wat gaan met sulke gevalle van wreedheid en lyding gebeur as die Nelspruit DBV se deure gesluit moet word? Waarskuwing: Grafiese inhoud.

MBOMBELA – Twee uiteenlopende gevalle het die afgelope twee weke bewys dat inwoners, van die armste tot die rykste buurte, dierewelsynsdienste benodig. Hulle sal dit egter dalk eersdaags moet ontbeer indien die Nelspruit DBV as gevolg van ‘n gebrek aan fondse sy deure moet sluit.
Mbombela Plaaslike Munisipaliteit se hondevanger, mnr. Faan Prins, het verlede week Woensdag in KaBokweni ‘n hond, waarvan beide die voorpote afgebreek was, uit ‘n donga gered. Die wonde was reeds ‘n paar dae oud. Die dier het nog gelewe aangesien hy water uit die donga kon drink, maar nie kon loop om hulp te gaan soek nie. Die hond is deur Prins na die DBV Nelspruit gebring. Laasgenoemde tree as munisipale diereskuiling op.
Die hond is toe na die Van Wijkstraat Diere en Voël Hospitaal geneem waar hy uitgesit is om hom verdere lyding te spaar. Verlede Vrydag is ‘n groot boerboelkruising weer in Steiltes deur die DBV Nelspruit se inspekteur, me. Marcelle Hoffman, by haar eienaar gekonfiskeer nadat ‘n wenk ontvang is dat die hond ‘n reusekankergewas in haar maag het waarin die maaiers alreeds besig was om eiers te lê.
“Sy was soos ‘n vrieskoei met ‘n uier waaruit die sug gedrup het,” sê Hoffman.
Die hond is onmiddellik na die Van Wijkstraat Diere en Voël Hospitaal geneem waar sy uitgesit is. Nog ‘n hond, ‘n worshond sonder tande, is by dieselfde eienaar gekonfiskeer. Albei hierdie prosedures is weer gratis deur die veaartse by die praktyk gedoen aangesien die DBV Nelspruit nog steeds nie in die posisie is om hul skuld van meer as R300 000 by die verskillende veeartse in die stad te vereffen nie.
“Dit kan onmoontlik raak om pligte rondom diere se welsyn behoorlik uit te voer. DBV-takke vervul ‘n onmisbare rol in die gemeenskap. Dienste aan die gemeenskap, soos in beide hierdie gevalle, is lewensnoodsaaklik. Waar gaan ons met hierdie honde en ander diere heen wat so wreed behandel word indien ons nie langer ‘n DBV in Nelspruit het nie? Of indien die veeartse as gevolg van die skuldlas nie meer sulke dienste kan lewer nie?” vra Hoffmann, wat ook die voorsitter van die plaaslike DBV is.
“Ons vra die gemeenskap om ons hande te versterk. Die DBV kan sluit as sakemanne ons nie help om die skuldlas af te werk nie. Ons kan nie toelaat of toesien dat ons diere so ly nie.”
Die komitee het onlangs ‘n uitnodiging aan besighede gerig om mekaar uit te daag om fondse te verkry, spesifiek om veeartsrekeninge te vereffen. Een veeartspraktyk, Van Wijkstraat Diere en Voël Hospitaal, het reeds R10 000 aan die Nelspruit DBV Besigheidsuitdaging geskenk.
Mnr. Jonathan Siegrist van Ocean Basket het R5 000 geskenk. Hy het aan Laevelder gesê dat hy graag ander besighede uitdaag om net soveel, of meer, te skenk.
Die DBV se inspekteursbakkie wat gebruik word vir ‘n wye reeks funksies soos skoolbesoeke, sal borge se name op die deur met ‘n metaal-advertensiebord dra. Skenkings kan inbetaal word in Lowveld SPCA se Absa-rekening. Die taknommer is 632005 en die rekeningnommer 1081510080. Die verwysing is Biz Challenge.
Stuur asseblief ‘n e-pos aan christonortje@yahoo.com om aan te dui wie uitgedaag word.
