Bure van munisipale reservaat woedend oor uitgeteerde renosterbulle
Die Nkomazi-munisipaliteit se woordvoerder, Cyril Ripinga, sê hulle is tevrede met die kondisie van die twee renosters waarvoor hulle verantwoordelik is in die munisipale reservaat. Die Marlothpark Huiseienaars-vereniging voer egter reeds ten duurste die twee lustelose renosters waarvan die ribbes en rugstringe wys.
MARLOTHPARK – Die twee ondervoede, onthoringde witrenosterbulle van die Leeuspruit Natuurreservaat het internasionale belangstelling uitgelok toe berigte oor hulle uitgeteerde toestand vandeesweek die wêreld ingestuur is.
Skenkings om te sorg dat spesiaal-aangepaste kos vir hulle gekoop kan word, stroom in.
Volgens die Marlothpark Huiseienaars-vereniging het die minister van omgewingsake, me. Edna Molewa, nou ook tot die polemiek rondom die renosters toegetree.
Sy het na bewering ‘n onderneming gegee aan die vereniging se lede dat sy ‘n veearts sou stuur om na die diere se belange om te sien en aan haar verslag te doen.
Die inwoners van Marlothpark is ‘n ruk reeds ontsteld oor die renosters wat so ernstig ly as gevolg van hongerte “dat hulle ribbes en rugstringe wys”, sê die woordvoerder van die Marlothpark-eienaarsvereniging, mnr. Dennis Goffinet.
Die vereniging lê die blaam voor die deur van die Nkomazi Munisipaliteit wat die verantwoordelikheid van die bestuur van die reservaat dra.
Goffinet het aan Laevelder gesê dat die 1 500-hektaar natuurreservaat aangrensend tot Marlothpark as gevolg van ‘n gebrek aan bestuur ten gronde gaan en dat die diere daaronder ly. Die uitgerekte droogte en oorbevolking van die reservaat dra ook by tot die verswakking van omstandighede in die reservaat. Na ‘n versoek vir skenkings om die uitgeteerde renosters die voeding te gee wat hulle benodig, het die vereniging verskeie aanbiedinge van hulp gekry.
Fondse is beskikbaar gestel om kos te koop en die renosters daagliks te voed.
Renosters op voeding moet ‘n spesiale aangepaste dieet volg van uitgesoekte grasse en perdekos. Standaardkos wat vir ander wilde diere gevoer word akkordeer nie met hulle sensitiewe verteringstelsels nie. Die twee renosters se kosrekening sal R14 000 per maand beloop.
“Hulle toestand is besig om by die dag te verswak,” sê Goffinet.
Die vereniging se lede is ook ontsteld oor ‘n renosterkoei wat in April in die reservaat gevrek het en die feit dat die Nkomazi Munispialiteit nie die doodsverslag daarvan aan hulle bekend wil stel nie. Die koei se kalfie het gevrek nadat sy verdoof is om vervoer te word.
Die Nkomazi Munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Cyril Ripinga, sê egter hy kan nie die aantygings rondom die ondervoeding van die renosters verstaan nie. “Dit is net wilde beweringe.”
“Die renoster wat in April gevrek het, was as gevolg van ‘n siekte en die doodsverslag van die veearts het dit bevestig,” het hy verduidelik. Hy het verwys na ‘n veearts wat ingekontrakteer is deur die munisipaliteit om na die welsyn van die diere om te sien. Volgens hom het die veearts nog onlangs geen kommer oor die welsyn van die diere in Leeuspruit uitgespreek nie.
“Iemand is besig om hierdie leuens op te maak,” het Ripinga gesê.
Ten spyte van sy gerusstelling het die munisipaliteit volgens Goffinet toestemming verleen dat toegang aan ‘n groep verleen word om hul daagliks kos te gee.
Laevelder kon nie bevestig of die minister wel sal ingryp nie. Die koerant se pogings om met die veearts in verbinding te tree, was ook onsuksesvol.
