Local newsNews

Onderberg kry kans om treffende film te sien

Kaartjies is by Gateway Gemeenskapskerk en Toddle Tots-kleuterskool beskikbaar.

KOMATIPOORT – Fliekvlooie gaan môre, 12 Augustus, die geleentheid kry om die rolprent, Uitvlucht, te kyk en bekroonde regisseur Regardt van den Bergh en sy aktrise-vrou Clara te ontmoet.

Uitvlucht gaan om 19:00 by die Gateway Gemeenskapskerk, op die hoek van Rissik- en Gilfillanstraat vertoon word en kaartjies kos R50.

Daar is slegs 200 beskikbaar.

Die Van den Berghs gaan die film, wat op hulle eie liefdesverhaal geskoei is, self kom vertoon, om volgens Regardt, “die rêrigheid” van die film te onderstreep. “Ons is daar om te getuig dat dit ons storie is, nie uit die duim gesuig nie, en dat die Here werklik tweede kanse gee. Ons hoop om mense te inspireer en miskien ‘n vuurtjie aan te steek wat van die jong ouens tot die bedryf sal laat toetree.”

Die paartjie het onlangs op hul Facebook-blad te kenne gegee dat hul bereid is om hul film, Uitvlucht, wat ‘n paar maande gelede vir ‘n kort tydperk in Ster Kinekor-teaters vertoon is, na die platteland te bring, waar mense nie die voorreg gehad het om dit te sien nie. Gateway Gemeenskapskerk het nie op hul laat wag nie en die geleentheid aangegryp.

Volgens Clara is hulle mal oor die wildtuin en die feit dat die dorpie so naby is, maak hulle baie opgewonde.

Regardt is al met vele toekennings bekroon en is bekend vir sy werk aan films soos Faith like Potatoes, Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom en Klein Karoo. Hy het ook rolle in Dokter Dokter en Vyfster vertolk.

Clara is self ‘n bekende gesig op Suid-Afrikaanse televisie. Jare gelede het sy die rol van Hess in Orkney Snork nie vertolk. Sy was te siene in dramas soos Vlug na Egipte en Terug na Egipte.

Volgens Regardt is die doel van Uitvlucht eerstens vermaak, maar ook om die kyker te onderrig en geestelik te bedien.”Ons het gevoel ons het ‘n storie waarvan mense sal hou om te hoor, maar geweet dis ‘n storie waarvan die hart mense sal aanraak en bedien ook.” Hy en Clara het saam aan die draaiboek geskryf.

“Die beste stories, glo ek, kom uit eie ervaring en daarom het ons gevoel Uitvlucht sal treffend wees.”

“Die begin van ons gesels en verlief raak, was so omvangryk en het soveel storiepunte aangeraak, dat ‘n mens dit amper nie kon weerstaan om te vertel nie. Een voorbeeld is ons ouderdomme. Ons is nie meer tieners nie, en dis moeilik om weer te vry na iemand en om jouself kwesbaar te maak en weer heeltemal te commit. Dit het vir my die storie ‘n nuanse en ‘n digtheid op diepte gegee.”

Kaartjies is by Gateway Gemeenskapskerk en Toddle Tots-kleuterskool beskikbaar.

Navrae: Lehani by 013-793-7421 vanaf 08:00 tot 14:00 of na-ure by 082-3633-297. Verversings sal reeds vanaf 18:00 beskikbaar wees en fliekgangers kan voor die tydsaamkuier.

Die glanspaartjie is ook Sondag om 09:00 by Gateway Gemeenskapskerk, waar hulle ‘n boodskap van hoop sal bring.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button