Trane rol toe Leeuspruitrenosters, Flippie en Peanut, se kosnood verlig word
Toe die drie trokke vol bale kos om die draai by droogtegeteisterde Marlothpark ry, was daar geharde Laevelders wat diep aangeraak was deur hierdie gebaar van Boere in Nood om Flippie en Peanut, Leeuspruit se uitgeteerde renosters, te kom help. En toe baat al die ander diere ook daarby!
MARLOTHPARK – Twee verhongerde renosters, Flippie en Peanut, van die Leeuspruit-reservaat se lot het wyd en syd harte só aangeraak, dat daar nou voer vir hulle, sowel as vir die ander reservaatdiere, vir bykans ‘n maand is.
Verlede week is daar berig oor die haglike toestand waarin die twee grotes verkeer as gevolg van die uitmergelende droogte en beweerde verwaarlosing van die Nkomazi-munisipaliteit se bestuur. Die diere het hongersnood en moontlike vrekte in die gesig gestaar.
Die berigte het onder die aandag van me. Carina Schwartz, administratiewe assistent van die hulpverleningsmaatskappy, Boere in Nood (BIN), en haar BIN-spanmaat, Julene Stevens Louw, gekom.
Hulle het verlede Saterdag met slegs ‘n paar telefoonoproepe bale voer sowel as proteïenlek vir die drie reisende BIN-vragmotors vanaf George, Wakkerstroom en Delmas verkry, en hulle in die rigting van die dorpie, Eloff, gestuur. Hier het mee. Santie Roux, Chantal Struwig en ‘n paar vriende met bakkies die trokke ontvang en vroeg Maandagoggend na Marlothpark vergesel.
Toe die drie vragmotors, by name Boytjie, Boertjie en Die Lady, volgelaai met bale groen veldgras, laataand op 8 Augustus die hekke van Leeuspruit-reservaat binnegery het, was dit onder die toejuiging van vele van die inwoners en met die luide gedruk van toeters. So verlig was sommige huiseienaars dat hulle nie anders kon as om aangedaan toe te kyk nie.
Nou is dit nie net Peanut en Flippie wat baat by die reuseskenking nie. Diere soos bokke en sebras het vir ten minste die volgende maand ook kos.
“Ons probleem was groot. Ons het nie geweet hoe om dit op te los nie. Hierdie groep mense het nie ‘n oomblik geweifel nie. Van die eerste oproep was dit vir hulle ‘n oplosbare probleem. Ons kan hulle nie genoeg bedank vir wat hulle vir die diere gedoen het en die moed wat hulle ons gegee het nie,” sê me. Alison Fitzgerald, koördineerder van die Marlothpark Wildlife Fund se weidingskomitee.
Die renosters se spesiale voedings-behoeftes, vanweë hul sensitiewe verteringstelsels, word tans ook aangevul met aangekoopte voer met die regte mengsel vitamienes volgens die aanbevelings van die wêreldbekende renosterchirurg, dr. Johan Marais.
“Die renosters is reeds meer op en wakker. Tyd sal leer hoe die ondervoeding hulle gesondheid beïnvloed het,” sê Fitzgerald.
Volgens haar onderhandel die huiseienaars van Marlothpark tans met die Nkomazi Munisipaliteit om ‘n langtermynoplossing vir die reservaat gereed te kry.
Schwartz van BIN het uit Bloemfontein gesê dit is juis hul organisasie se oogmerk om sulke korttermynoplossings aan te bied totdat planne in plek is vir die langtermyn.
Die renosters se lot het haar direk aangespreek. “Vir my gaan dit oor nalatenskap en dat ons moet saamstaan om dit wat kosbaar is, te bewaar. Ek wil hê dat my kinders eendag moet kan sien hoe ‘n renoster lyk. Ons kan nie toelaat dat hulle verdwyn nie en moet elkeen bewaar,” het Schwartz gesê.
BIN is twee jaar gelede deur Scwartz, mnr. Nico Gerber, ‘n boer van George en mnr. NC Schoombee in die lewe geroep om landwyd hulp tydens die droogte te verleen. Volvo het drie trokke hiervoor beskikbaar gestel.
Die organisasie is afhanklik van hul eie fondsinsameling vir voer én lopende kostes.
Die drie voertuie vol voer, bestuur deur mnre. Laurence Mokele, Gregory Makhudu en Gareth Quiens “hardloop heel week en elke tweede naweek, so groot is die nood”, volgens Schwartz.
Mnr. André van den Berg, eienaar van A-Amazing River View-restaurant in Marlothpark, het die BIN-span na die aflewering met ‘n stywe ontbyt beloon.
“Ons is so dankbaar vir dit wat hierdie span so spontaan gedoen het. Dis maar ‘n klein gebaar om dankie te sê.”
