Hard newsLocal newsNews

Bonusvideo: Wildtuinluiperd maak heel gerieflik ‘n vanghok sy boshotel

Die lewe in sy vanghok het vir 'n luiperdmannetjie oornag alte gerieflik geword . . .

KROKODILBRUG – ‘n Jong nomadiese mannetjiesluiperd het by Sandrivier Boskamp in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) onlangs probleme veroorsaak deur te na aan besoekers te kom. Eerder as om hom van kant te maak het veldwagters ‘n plan beraam om die probleemdier ‘n tweede kans te gee.

Mnr. Gerhard de Beer, SANParke Ereveldwagter van Pretoria, sê dat die voorval hom weer eens laat besef het hoe veldwagters elke keer die ekstra kilometer sal stap om te bewaar en te beskerm.

“Die mannetjie het sy vrees vir mense verloor en kanse in die kamp begin waag. Hy het hopeloos te naby aan besoekers gekom, vir hulle – en sy eie – veiligheid. Die vraag was of hy hierdie vrees genoegsaam sou terugvind om weer in die natuur losgelaat te word,” vertel De Beer.

‘n Vanghok is een oggend vroeg in die area waar die luiperd graag loop, geplaas. Teen skemer het die dier weer nadergestaan en aansienlike belangstelling in die doen en late van die kamp se besoekers getoon.luiperd toe in kas

Hy het ook die vanghok nuuskierig gaan ondersoek. Binne vyf minute was hy binne die hok en het heel tevrede daarin gaan lê.

“Sy gedrag was vreemd vir ‘n luiperd wat gevang is. Hy het nie ‘n enkele geluid gemaak nie en gou aan die slaap geraak. Hy het bepaald sy naam van ‘luiperd’ gestand gedoen,” vertel De Beer.

Die volgende oggend het ‘n span onder leiding van die area-veldwagter, mnr. Steven Whitfield, versigtig die hok op ‘n bakkie getel en dit met ‘n seil toegemaak sodat hy rustig daarbinne na sy nuwe tuiste vervoer kon word.

Soos ‘n BBP het hy na sy nuwe tuiste veel verder in die Sandrivier gereis waar hy ten midde van ‘n luide geraas, geknor en geblaas afgelaai is en die hok met blare en takke toegepak is. Die blarekleed is mettertyd verwyder en die deur is toe vanaf ‘n afstand oopgetrek. luiperd hok 4

Hy het egter sy verblyf in die hok soveel geniet dat toe die glipdeur van die hok oopgetrek is, hy ewe lekker daarin bly lê het. Houtgerus en sonder enige haas het hy hom in sy nuwe omgewing in die oop hok tuisgemaak en selfs met sy oggend se skoonlek-ritueel begin voordat hy sy nuwe omgewing bespied het.

“Hy wou eenvoudig nie uit die hok nie! Dis asof hy sy tydjie daarin net te veel geniet het. Die deur was oop, maar hy het hom tuisgemaak asof hy dae daar kon bly!” sê De Beer.

Hy en die res van die span het ondertussen na die veiligheid van die bakkie terug gekeer. Toe krul die luiperd se stert rustig by die hokopening uit.

Die swart punt toets die lug. Asof hy skielik besef het vryheid is op hande, hang sy stert soos ‘n vredesvlag ‘n rukkie in die lug. Toe draai hy stadig in die hok om, snuif die lug en in ‘n japtrap storm hy uit in die rigting van die bakkie.

“Ons kon sien hy het beslis sy vrees vir mense terug-gekry. Hy het met ons kom baklei! Alhoewel ons in die bakkie was, het hy ons beslis ‘n paar angstige en benoude oomblikke laat beleef!” verduidelik De Beer. Daar is sovele anekdotes oor luiperdstormlopies.

“Ek is so beïndruk met die NKW-veldwagters. Hulle kon netsowel die dier van kant gemaak het.”

“Die uitdrukkings op hul gesigte toe die jong mannetjie met die droë rivierloop af hardloop, het gewys hulle was bly dat hulle gedoen het wat reg teenoor die luiperd en bewaring was.

“Hulle het ‘n stukkie hoop aan ons almal gegee dat ‘n luiperd dalk nie van kolle mag verander soos die spreekwoord sê nie, maar wel sy streke vir ‘n rukkie kan los as dit hom pas.

“Dalk het sy vyfsterverblyf in die hok waaraan hy so geheg geraak het, veel daarmee te make gehad,” lag De Beer.

gerhard de beer
Gerhard de Beer

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button