Blou bloed loop dik deur Wynie se are
Dit was moeilik om Wynie Strydom te oorreed om 'n outobiografie te skryf, want al waaroor hy wou praat is Bulle-rugby.

WITRIVIER – Strydom was 38 jaar as speler en spanbestuurder (16 jaar) by die Bulls en Blou Bulle betrokke en vir rugbyaanhangers ‘n bekende gesig langs die veld.
Hy wou erkenning aan die spelers en die beamptes wat diep spore in sy hart getrap het, gegee het.
“Ek wou nie oor myself gepraat het nie, ek wou oor die Bulle skryf, maar in die kontrak was dit duidelik – “outobiografie”. Ek het nie eens geweet wat dit beteken nie, maar dit het my ‘n kans gegee om ‘n stappie terug na my kinderjare toe te vat,” het Strydom Saterdag by die Laeveld Boekefees in Witrivier vertel.
Lees ook: Legende onthou sy diep spore in die Blou Bul-kamp
Ervare vrystukjoernalis, Alita Steenkamp het Strydom oor ‘n middagete ontmoet toe sy hom gevra het of hy dit nie oorweeg om ‘n boek te skryf nie. Sy sê die Bulle is die hart van hulle vriendskap. “Ek is ‘n Blou Bul in murg en been en dit wat ek van Wynie geweet het, het ek Saterdae op die televisie gesien. Soos ons Woensdae aan die boek geskryf het, het ons besef dat ons eintlik baie in gemeen het,” vertel Steenkamp.
Die voltooide manuskrip van 135 000 woorde is aan die einde van September 2014 aan die uitgewers gestuur en net voor Kersfees daardie jaar is die gesnyde weergawe ingegee.
“Ons moes die manuskrip met 55 000 woorde sny – dit is amper ‘n boek op sy eie. Ons moes mooi gaan sit en dink watter stories regtig tot die boek bydra,” sê Steenkamp.
Strydom het in Graskop grootgeword waar hy op laerskool was en hy is later na Hoërskool Lydenburg se koshuis. “Die Laeveld is vir my soos die Blou Bulle – as dit eers een keer in jou bloed is, kan jy dit nie weer uitkry nie. Almal was een groot familie in Graskop. Sodra die skoolklok gelui het, het die dorp se kinders na die Strydoms toe gegaan. Ons het ‘n rugbyveld en ‘n atletiekbaan uitgemeet en was nie soos die kinders van vandag ‘vroeg ryp vroeg vrot nie’,” sê Strydom.
Lees ook: Skrywer vind vreugde in ander se verhale
Dié 65-jarige was nie net ‘n bestuurder nie, maar ‘n pa vir die spelers en hy het na hulle omgesien. Hy is ‘n mens wat sy lewe lank ‘n karnallie, poetsbakker en plannemaker van formaat was. Hoogtepunte in die tyd saam met die Bulle, was daar baie, veral die bekers.
“Die wen van die bekers en die vriende wat ek wêreldwyd gemaak het, het my loopbaan die moeite werd gemaak. Die boek het my gedwing om te gaan stil sit en terug te dink. Alita het my baie moeilikheid gegee, want ek was nie een van die fluksste studente nie. Sy het baie van my gholftyd opgeneem,” sê hy met ‘n groot glimlag.
Wynie se boek, My bloed is blou, is vir enige rugbyliefhebber, ongeag vir watter span jy skree, bedoel.

