Onwettige vuurwerke by Hoërskool Nelspruit lok wye reaksie by diereliefhebbers uit
Onkunde is geen verskoning sê die stasiebevelvoerder van Mbombela se brandweerstasie van Hoërskool Nelspruit se onwettige vuurwerkvertoning tydens hul Fiësta-feesvieringe.

MBOMBELA – Vele van die stad se diere-aktiviste en eienaars is erg ontsteld oor die onwettige afvuur van vuurwerke deur Hoërskool Nelspruit tydens hul kermis wat verlede Vrydag gehou is. Die skool het nie vir ‘n permit aansoek gedoen om die vuurwerkvertoning aan te bied nie.
Die stasiebevelvoerder van Mbombela Brandweerstasie, mnr. Johan van Weidts, het bevestig dat daar geen permit vir die vertoning uitgereik is nie.
“Instansies kan nie langer agter die verskoning wegkruip dat hule nie geweet het hulle moet vir ‘n permit aansoek doen nie,” het hy aan Laevelder gesê.
Me. Sharlene Zinserling, ‘n lid van die DBV Nelspruit se bestuurskomitee, het haar bes probeer om die vertoning te kanselleer maar moes handdoek ingooi. Die eerste vuurwerke het om 20:17 met ‘n luide geknal afgegaan.
“Daar het niks gekom van die adjunkhoof van Hoërskool Nelspruit se onderneming wat hy net so na 19:00 aan my telefonies gegee het om die vertoning te stop nie,” sê Zinserling.
Nadat sy op die Facebookblad Lost and Found Laeveld net na 16:00 ‘n waarskuwing, geplaas deur Waldo Smit, oor die vuurwerke gelees het, het sy aan die werk gespring. Smit het diereliefhebbers gevra om hul diere op te pas en dop te hou want vuurwerkvertoning is altyd traumaties vir diere.
Zinserling het Van Weidts by die Mbombela Brandweerstasie geskakel om te hoor of daar ‘n permit vir die vertoning uitgereik is. Sy het uitgevind dat die plofstofeenheid van SAPS ook nie so ‘n permit uitgereik het nie.
Toestemming om ‘n vuurwerkvertoning te hou moet deur beide die brandweerafdeling sowel as die SAPS-plofstofeenheid verleen word alvorens ‘n permit uitgereik kan word.
Zinserling het met die adjunkhoof van Hoërskool Nelspruit, mnr. Kobus Hartman, in verbinding getree en hom meegedeel dat hulle nie met die vertoning kan voortgaan sonder ‘n permit nie.
Volgens haar was hy nie bewus dat die skool ‘n permit moes verkry nie. Hy het volgens haar ook onderneem om sy bes te doen om toe te sien dat die vertoning gekanselleer word.
Tot Zinserling en vele ander diereliefhebbers op van Mbombela se Facebookblae se misnoeë, het die vertoning wel voortgegaan. Zinserling is uitgesproke hieroor.
“Wat my pla, is dat dit juis die onderwysers is wat ons kinders oor dieremishandeling en diere se regte moet onderrig wat van beter moes geweet het. As ons by die DBV van sulke wettige geleenthede te wete kom, kan ons voorsorg tref deur te sorg dat ons kantore oop is vir honde wat dalk ingeneem moet word na so ‘n vertoning of kan ons ‘n teenwoordigheid by die terrein handhaaf. Maar ons is ook glad nie in kennis gestel nie.”
Dr Louis Swanepoel, skoolhoof van Hoërskool Nelspruit, het namens die beheerliggaam aan Laevelder gesê dat die organiseerders nie bewus was dat daar vir ‘n permit aansoek gedoen moes gewees het nie.
“Hoërskool Nelspruit het elke vyf jaar ‘n fondsinsamelingsprojek vir die daarstelling van kwaliteit-fasiliteite vir die leerders van die skool.
“Die fondsinsamelingsprojek het ten einde geloop waar na afloop van die vertoning van ‘n gaskunstenaar, vuurwerke gebruik is om die einde van die projek aan te kondig. Die bedoeling van die skool was om dank en waardering aan leerders, ouers en die gemeenskap te betoon vir hulle toegewyde en harde werk met die projek.”
Hy besef die vuurwerkvertoning het lede van die gemeenskap verontrief. “Hiervoor vra die bestuur van die skool onvoorwaardelik verskoning. Die intensie was definitief nie om mense en diere te na te kom nie.
“Die jaarlikse uitreike van Hoërskool Nelspruit na organisasies soos die DBV en ander diensorganisasies, is bevestigend hiervan.”
Swanepoel het verduidelik dat die oproep wat Hartman ontvang het anoniem was. Hartman het wel voortgegaan om uit te vind of ‘n permit wel verkry is of benodig word, maar as gevolg van die tydsverloop kon hy nie daarin slaag om die vertoning te keer nie.
Die DBV Nelspruit se administratiewe assistent, Ms Celia Sutton, sê dat dit ‘n stil naweek was en dat die DBV slegs drie honde oor die naweek ingeneem het.
Meer inligting oor die verkryging van permitte vir die afvuur van vuurwerke kan by 013-753-3331 verkry word.
