Hard newsLocal newsNews

Slimfone maak dit nou maklik om onkruid uit te ken

'n Saamwerkruimte is geskep op 'n portaal waar onkruiddeskundiges en Jan Alleman via slimfone inligting oor onkruid kan uitruil. Die doel? Om voedselsekuriteit te bevorder.

MBOMBELA- In die toekoms sal dit veel makliker wees om onkruid te identifiseer en te beheer danksy ‘n revolusionêre tegnologiese toepassing wat deur dr. Azaad Gaungoo en sy ontwikkelingspan van die Weed Identification and Knowledge in the Western Indian Ocean (WIKWIO)-portaal ontwerp is.

As gevolg van hierdie samewerking tussen onkruiddeskundiges en inligtingstegnoloë kan jy toegang kry tot ‘n ryke verskeidenheid inligting oor onkruid in jou omgewing soos spesiename, waarnemings oor die groei en voortplanting daarvan sowel as foto’s en illustrasies. Die portaal is ‘n saamwerkruimte waar Jan Alleman sonder enige wetenskapkennis oor plantkunde kan saamwerk aan ‘n ensiklopedie van kennis oor onkruid wat veral in landerye van die Westerse Indiese Oseaan en Suidoos-Afrika groei.

Dr. Asaad Guangoo
Dr. Asaad Guangoo

Tydens ‘n onlangse werkswinkel wat deur Gaungoo by die Universiteit van Mpumalanga aangebied is, is ‘n demonstrasie gegee van hoe alleman deur die toepassing op sy slimfoon of tablet kan saamwerk om die kennisbronne aanlyn oor onkruid uit te brei.

Die groep ywerige bywoners van die werkswinkel is deur Gaungoo veld in geneem waar verskeie onkruidspesies met slimfone afgeneem en die inligting deur die toepassing na die portaal gestuur is.

Verskeie wenke van watter soort inligting benodig word soos groeiwyse, blaarrangskikking en bessies of sade is deur Gaungoo uitgewys. Die data deur die sogenaamde allemans-wetenskaplikes geregistreer en aangestuur, word dan in die groter kennisbasis van die portaal opgeneem. Indien spesiename nie aangegee is nie word dit later tot die databasis deur kundiges ingevoeg.

“Op hierdie manier bou ons eerstehands data op wat gedeel kan word. Ons doel is uiteindelik om voedselsekuriteit te bevorder deur onkruid wat in landerye voorkom, beter te bestuur. Enige iemand wat dus by die portaal geregistreer is kan dus deelneem deur of spesies en foto’s en inligting aan te stuur of die portaal te gebruik om ‘n onkruid en ‘n bestrydingsmetode te identifiseer,” het Gaungoo gesê.

Op hierdie manier kan navorsers, landboukundiges en boere saamwerk om kennis te deel en te ontgin. ‘n Unieke IDAQ-identifikasie is op die portaal beskikbaar waarmee ‘n onkruid in die veld geïdentifiseer kan word. Geen vooraf-kennis van plantkunde is nodig nie.

Pieter Jordaan het die WIKWIO-toepassing tydens die werkswinkel gebruik.
Pieter Jordaan het die WIKWIO-toepassing tydens die werkswinkel gebruik.

‘n Groot aantal inligting oor ‘n spesie kan deur die toepassing op die portaal verkry word soos oorsprong van die onkruid en kontrolemetodes. Tans is daar inligting oor 345 spesies beskikbaar. Die inligting is in Engels sowel as Frans beskikbaar.

“Ons sal graag al hoe meer en meer mense wil oplei wat direk met gewasse werk waarvan die groei en voortbestaan deur onkruid bedreig word,” het Gaungoo gesê.

Ageratum loustonianum
Ageratum loustonianum

Sy ideaal is dat die toepassing en portaal daartoe sal lei dat gewasse meer produktief verbou kan word. “Ons doelwit is om ‘n netwerk daar te stel wat boere en die navorsingsgemeenskap in staat sal stel om onkruid wat by gewasse groei uit te roei.”

Inligting soos biologiese tipe, habitat, lewensvorm en wetenskaplike sowel as gebruiksname word aangegee.

So sal daar breedvoerig ‘n beskrywing wees van hoe die stam, blare en voortplantingswyse wees. ‘n Kaart is ook beskikbaar vanwaar dit voorkom sowel as metodes hoe dit bestry kan word. ‘n Besprekingsforum is ook by elke plant beskikbaar waar gedagtes en inligting uitgeruil kan word.

Sathish Manickam, ontwerper uit Indië van die toepassing, glo dat hierdie stuk gereedskap met al sy inligting en funksionele inter-aktiwiteit dit makliker vir gebruikers kan maak om onmiddellik die spesifieke inligting oor onkruid te kry waarna hul soek.

“Dit is ontwerp om die gebruik van wetenskaplike inligting te vergemaklik en te bevorder sowel as om almal in die veld toe te rus om beter gewasse te verbou,” het hy tydens die werkswinkel gesê.

Vir meer inligting laai die WIKWIO-toepassing op App Store of Google Play af, of die WIKWIO CS-toepassing. Sien ook die portaal op www.wikwio.org. Die projek is in 2013 begin en die versameling van inligting sal teen die einde van vanjaar afgesluit word. Dit word deur verskeie Franse plantkunde-instansies sowel as die suikerbedryf van Mauritius geborg.

IMG_1989 (Small)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button