Van die wildtuin tot die Kaap – die lewe van ‘n afgetredene
Reis verbreed die Hymans se horison.
MBOMBELA – Quintin en Susan Hyman kan as twee swaeltjies beskryf word. Dis nou volgens Eugene van Eijk, wat soos hulle, 60-plussers wat deur die land in ‘n karavaan of tent toer, beskryf. Eugene, ‘n kampliefhebber en die man aan stuur van sake by Lakeview Lodge & Caravan Park, kry gereeld met sogenaamde swaeltjies te doen.

“Eers kamp hulle in Mosselbaai, dan hier by ons, dan in Hoedspruit, dan wildtuin toe. Hulle kry die hele land só te sien,” het hy vertel.
Laevelder het met die Hymans, wat gedurende Mei in ons geweste gekamp het, oor hul omswerwinge gesels. Die jaar 2016 was vir dié twee tot dusver ‘n opwindende avontuur. “Ons was in Mei in die Mapungubwe Natuurreservaat,” het Susan vertel. Hulle het ook Botswana toe gereis, waar die Hymans die natuurerfenis Solomon’s Wall te siene gekry het.
Die Nasionale Krugerwildtuin was in Mei hul bestemming. “Ons het by Pafurihek ingegaan en die noorde van die wildtuin vir ses dae besigtig. Ons was heel verras oor hoe mooi groen dit daar was en het baie wild gesien. Daarna is ons Berg-en-Dal toe vir so twee dae,” het Susan gesê.

Die Hymans sien nou om na ‘n paar verpligtinge tuis, maar beplan reeds aan hul September-ekskursie.
“Ons gaan ‘n vyfdag-staptoer by die Oorlogskloof naby Niewoudtville onderneem en vir sowat ‘n week Kaapstad se kant toe gaan,” sê Susan. Quintin, ‘n adrenalienverslaafde, wil die Ceres-zipline uittoets. Die twee is kranige stappers en verken die plekke waar hul kamp graag per voet. Wanneer ‘n besienswaardigheid te ver is, ry hulle soontoe.
“Só verbreed ons ons horison,” het Susan gesê. Die twee is dit eens dat daar by geen padstal verbygery mag word nie, omdat die interessanthede en lekker eetgoed eenvoudig gesien en geproe móét word.
“Om rustig in die natuur te wees en alles om jou in te drink is ‘n hoogtepunt,” sê Susan, en Quintin stem saam.
Alhoewel die twee lekker ontspan wanneer hulle met vakansie is, bly hulle paraat.
“Jy sluit nog maar alles toe wanneer jy vakansie hou,” het Susan gesê. Sy meen dat party plekke veiliger is as ander, maar dat die verantwoordelikheid om na jou eiendom om te sien altyd ‘n prioriteit bly, of jy nou tuis of met vakansie is.
