Die voorkoming van veldbrande is almal se verantwoordelikheid
Die risiko is baie hoër as ander jare weens die huidige droogte.

Terwyl veldbrande die tyd van die jaar weer rondom Barberton en die res van die somerreënvalstreek uitbreek, en gereeld groot skade aanrig, word die vraag van aanspreeklikheid weer gevra. Met die huidige droogte is die risiko ook baie hoër as ander jare.
Die afgelope maand was geen uitsondering nie en die Umjindi-brandweer het behoorlik hul kant gebring om brande onder beheer te kry.
Baie van hierdie brande ontstaan as gevolg van nalatigheid en sommige word kwaadwillig gestook. Indien jy bewus word van iemand wat vuur maak langs die pad, meld dit asseblief so spoedig moontlik aan aangesien baie van die vure nie geblus word nie en dan deur die grensdrade versprei na die boer se aangrensende kampe toe.

Alhoewel dit die verantwoordelikheid is van elke grondeienaar om voorbrande te maak voor hierdie seisoen ‘n aanvang neem gebeur dit nie altyd soos dit moet nie – uiteengesit in die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande Nr. 101 van 1998 (die Wet).
Die wetgewing rondom toerusting wat eienaars tot hul beskikking moet hê in die geval van ‘n brand is nie baie duidelik nie, maar dit sal redelik wees om te verwag dat elke grondeienaar sy omstandighede, asook die toestand van die area, in ag moet neem.
Volgens dit behoort daar ‘n goeie idee te vorm oor die hoeveel brandslaansakke, watertenks wat vervoer kan word met ‘n trekker of op ‘n sleepwaentjie en wat dies meer benodig sal word.
“Alhoewel Barberton se brandweerspan gesout is wat brandbestryding aanbetref is daar nie onbeperkte mannekrag nie, dus sal dit hoog op prys gestel word indien elke grondeienaar sy deel doen,” sê Clarence Hobbs, van die Umjindi-brandweerspan.
Volgens Graan SA word die nalatigheid van ‘n produsent of sy werkers regtens as volg omskryf:
Kragtens ons gemene reg sal ‘n persoon aanspreeklik wees weens nalatigheid indien ‘n redelike persoon in daardie produsent/werknemer se posisie die redelike moontlikheid sou voorsien het dat sy optrede of nalatigheid skade aan iemand anders kan veroorsaak; daardie redelike persoon redelike stappe sou kon geneem het om sulke skade te verhoed en die betrokke produsent/werknemer versuim het om sulke redelike stappe te neem.
Die volgende vraag word ook gevra: Twee bure, waarvan slegs een aan ‘n brandbeskermingsvereniging behoort, ondervind ‘n wegloopbrand wat verder vanaf hulle plase versprei na ander plase. Hoe verskil hul posisies?
Artikel 34 van die Wet bepaal dat ‘n persoon in ‘n siviele eis aangespreek sal word vir skade weens nalatigheid as gevolg van ‘n veldbrand wat: deur die verweerder (persoon wat gedagvaar word) veroorsaak is; of begin het of versprei het van grond wat deur die verweerder besit word, en daar ‘n vermoede van nalatigheid teen hom sal geld indien hy nie lid is van ‘n brandbeskermingsvereniging in die gebied waar die brand voorgekom het nie.
Dit beteken dat daar ‘n omgekeerde bewyslas in die hof sal wees, in die sin dat die persoon wat aanspreeklik gehou word (gedagvaar word) die bewyslas sal dra om sy onskuld te bewys, hetsy ten aansien van die stigting van die brand of hetsy ten aansien van die verspreiding daarvan vanaf sy plaas na die eiser se plaas.
Hierdie omgekeerde bewyslas (vermoede van nalatigheid) geld slegs indien die verweerder nie ‘n lid van ‘n plaaslike brandbeskermingsvereniging is nie. Indien hy wel ‘n lid van so ‘n vereniging is, sal die eiser die bewyslas dra om nalatigheid aan die verweerder se kant te bewys, hetsy ten aansien van die stigting van die brand of hetsy ten aansien van die verspreiding daarvan na ander plase.
Op hierdie wyse word produsente dus aangemoedig om by plaaslike brandbeskermingsverenigings aan te sluit. Indien jy van ‘n wegholbrand bewus word in die Barberton omgewing, kontak die noodnommer 013-712-2233.
