Orgidee-soekers klim steil Longtompas om Laeveld se seldsaamste orgidee te vind
Al ooit oor die Laeveld se raarste veldorgidee gewonder? Die Grobler-gesin is die Longtompas op om die delikate plant te gaan vind.
ALKMAAR – Die Laeveld se seldsaamste orgidee, die Disa staerkeriana, groei op die kruine van die skouspelagtige berge van die Longtompas.
Dis op hierdie stukkie hemel op aarde waar die bekende orgideekweker, Lourens Grobler, en sy gesin die eksotiese plant twee jaar gelede gaan soek het.
Maar hoe vind ‘n mens so ‘n klein en fyne skat in die Laeveld se panoramiese oop vlaktes?
Grobler lag heerlik oor wat vir ‘n stadsjapie na ‘n reuse-uitdaging klink. Orgideeverkenners soos hy het reeds lankal hiervoor ‘n tegnologiese oplossing gevind.
“So al met die GPS-koördinate ter hand,” lag hy.
Dis juis op die wyd uitgestrekte ooptes van die geliefde pas waar Suid-Afrika se tweede grootste verskeidenheid veldorgideë groei. Meer as 30 persent daarvan word in dié veldskatkis tussen die lang gras soos kosbare juwele deur Moeder Natuur versteek.

Maar nie eens die natuur is teen vernuftige en gemo-tiveerde orgideesoekers bestand nie.
Vyf jaar gelede is die eerste vonds van die onontdekte spesie gemaak toe ‘n Oostenrykse orgideekenner, Herbert Starker, die pas se kruine tydens sy jaarlikse ekspedisie na Suid-Afrika ingevaar het.
Die delikate orgidee is na Starker se ontdekking deur die orgideebeskrywer, Douglas Mc Murty, opgeteken en twee jaar gelede as spesie verklaar en is na Starker vernoem.
Grobler en sy soekparty het die rollende grasvelde in Januarie 2015 ingevaar om ook die sonderlinge plant te soek nadat hulle toestemming van Sappi gekry het om die Hartbeesvlakte tussen Sabie en Graskop te verken. Deur die meer as 25 jaar wat hy en sy vrou Jolisa nou al hul internasionaal bekende orgideekwekery, Afri Orchids
bedryf, het hulle dié blomspesie in sy oneindige verskeidenheid goed leer ken en ook ‘n boek, Field Guide to the Orchids of Northern South Africa and Swaziland daaroor gepubliseer.
Vir sulke geesdriftige verkenners sal elke soektog egter altyd nuut bly. Dit is steeds vir Grobler ‘n lewensverrykende ervaring om hierdie blom in al sy delikate glorie in die natuur teë te kom. Vir hul dogter, Miré (8) en seun, Elro (11), was dit ‘n groot uitdaging om die hoogste punt waar die orgideë groei, 2 000m bo seespieël, te bereik.
“Ons moes hulle aanmoedig deur te sê hulle sal die eerste kinders wees wat hierdie punt van die berg bereik het. Dit het gewerk,” bevestig Grobler.
Onderweg het hulle gou op 10 van die langsteelplante afgekom. “Dis steeds ‘n groot bevrediging wanneer jy ‘n nuwe plant opspoor,” onthou Grobler die uitsonderlike oomblik.
Die kuns om in ‘n oop veld wel ‘n klein blomplantjie soos dié fluweelsag kolletjiesplant raak te sien, bemeester ‘n mens net na baie jare.
“Jy moet baie veld toe gaan om jouself te leer hoe om daarvoor te kyk,” sê Grobler.
Dit is egter ‘n vaardigheid wat hy na 25 jaar van soektogte vervolmaak het. “Ek kan nou teen 120 kilometer per uur op die pad ‘n orgidee langs die pad raaksien.”
Hy raak telkens weer bewus van die groot taak om veldorgideë te bewaar. “Dis belangrik dat ons nie die plante pluk nie. Orgideë het ope lug en lig nodig. Daarom moet ons ook in die veld opslag-dennebome en -bloekombome uittrek en indringerplante uithaal,” benadruk hy.
Voortgesette habitatverlies deur oorbeweiding en ontwikkeling bekommer Grobler. Hy vertel hoe daar nog met die skryf aan sy boek in 2000 oor orgideë by Tawny Ridge in Steiltes, die geel Platycoryne in die veld opgemerk is. Toe die boek verskyn het, was die plant nie meer in die veld te siene nie, ten spyte van ‘n bewaarpogings deur die eiendomsontwikkelaar.
“Ons neem soveel van die veld weg,” sê hy peinsend. Die erge droogte vanjaar was egter nie ‘n terugslag vir orgideë nie. “Die afgelope ses tot sewe jaar was nat. Die hoeveelheid blomme was min. Dit was nie nodig vir hulle om te blom nie,” verduidelik Grobler.

Ten spyte van hul delikate voorkoms is orgideë verbasend gehard. Selfs na ‘n veldbrand blom die plante beter omdat daar meer lug tot hul beskikking is en ‘n chemikalie deur vuur vrygestel word wat groei bevorder.
“Orgideë is soos sterk mense. Onder stresvolle omstandighede blom hulle meer.”
• ‘n Orgideeskou word Saterdag vanaf 8:00 tot 16:00 by die Groblers se Afri Orchids-kwekery op die Alkmaar-pad (neem die Kwanyoni Lodge op die N4 se afdraai en volg die aanwysings), aangebied. Toegang is gratis.
Navrae: 082-373-9916.

