Hard newsLocal newsNews

Oulike langoorbrak ontketen herrie oor opteldiere

Waar neem mens opteldiere heen? Dis die vraag wat Laevelders weer eens vra nadat 'n goedversorgde langoorbrak wat afgelaai is by 'n reddingsorganisasie, op soek is na 'n tuiste.

MBOMBELA – Min mense weet waar om ‘n heenkome vir opteldiere te vind. Dit is vandeesweek duidelik gemaak met ‘n wilde jaagtog deur die stad se strate, ‘n opvreetbare langoorbrak, ‘n verergde dierereddingsorganisasie-bestuurder en uitgesproke diereliefhebbers sowel as ‘n verontregte weldoener.

Nou is die vraag op almal se lippe: wat is die verskil tussen ‘n optelhond, ‘n weggooibrak, ‘n reddingshond en ‘n rondloperdier?

Die drama het verlede Saterdagmiddag begin toe ‘n wit Toyota-bakkie vlugtig voor die hek van die dierereddingsorganisasie, Pro-Life Pet Rescue, Rehabilitation and Adoption Agency, op die Barberton-pad gestop het om ‘n basset af te laai. Toe die bestuurder net wegry, was dit een te veel vir die administratiewe assistent, me. Marlise Pienaar.

Sy het die voertuig agternagesit om hom te konfronteer oor hoekom hy nie die hond se besonderhede kom aangee het nie.

‘n Dierereddingsdebat rondom die basset het begin nadat foto’s van die voertuig op Facebook geplaas is. Dit het die Laeveld vir dae aan die gons gehad.

Die bestuurder, mnr. JPC Mostert van Alkmaar, het aan Laevelder gesê hy het die brak opgetel.

“Ek het die verwarde hond op die N4 by Alkmaar opgetel en besef hy is so goed versorg, hy moet ‘n baas hê. Ek het hom uit die goedheid van my hart by die diereversorgingsplek gaan aflaai.”

“Ek het gemeen dis soos die DBV,” sê Mostert.

Hy het twee jaar gelede vanaf Bethlehem na Mbombela verhuis. Hy het soms tydens besoeke aan vriende, die Pro-Life-organisasie langs die pad gesien en aangeneem dat dit soos die DBV funksioneer. “Wat kon ek anders doen?”

Me. Karen Erasmus, bestuurder van Pro-Life, beklemtoon dat dit duidelik op die kennisgewingborde staan dat dié organisasie nie ‘n afgooiplek is nie.

“Ons neem nie diere wat eienaars het, in nie. Dis waarvoor die DBV daar is en waarvoor hulle ‘n ruim bedrag van die munisipaliteit ontvang. Ons het nie harde harte nie, maar vervul ‘n ander rol deur ‘n hawe te wees vir weggooidiere sonder eienaars,” verduidelik Erasmus.

Sy is ontsteld oor eienaars wat hulle dikwels doelbewus mislei en voorgee dat hulle verlore honde daar kom aflaai.

“Ek weet hoe swaar dit met die ekonomie gaan, maar dit gee niemand die reg om sommer net hul diere onder ‘n voorwendsel by ons af te laai en te verwag ons moet hulle versorg en so hul gewete probeer stil nie!”

Tans is daar meer as 150 honde in kampe by Pro-Life wat die ongesubsidieerde reddingsorganisasie sowat R80 000 ‘n maand kos.

Erasmus is ontsteld dat Mostert nie ten minste besonderhede van die opgetelde hond kom aangee het nie. Hy sou ook dan na die DBV verwys kon word en die hond sou ten minste ‘n “verwysings-geskiedenis” gehad het.

Me. Ria Mostert sê haar man het in goeder trou opgetree. Voor hulle die basset gaan aflaai het, het hulle selfs ‘n eienaar van sulke honde, mnr. Chris Rademeyer, gebel om te hoor of hy die dier wou hê.

“Niemand het die reg om ons nou hieroor aan te val nie. Ons wou net goed doen. Ons het nie geweet sulke diere moet eerder na die DBV toe gaan nie.”

Die vriendelike, maar verwarde vier jaar oue slapoorbrak is intussen deur een van die assistente ingeneem en versorg. Sy bakbeentjies en lang snoet het spoedig almal se harte gesteel en hom ‘n Facebook-liefling van menige diereliefhebber gemaak.

Pro-Life het reeds verskeie aanbiedinge van moontlike eienaars wat die vriendelike snuffelbrak ‘n goeie tuiste wil bied gekry, maar daar is ‘n wagperiode van sewe dae voor ‘n hond uitgeplaas kan word.

Wat moet jy doen met ‘n dier wat verseker ‘n eienaar het, maar rondloop in ‘n buurt of verlore oor gevaarlike paaie rondhardloop?

• Skakel die DBV Nelspruit by 013-753-3582 tussen 08:00 en 16:00 op weeksdae en Saterdae tussen 08:00 en 13:00.
• Die DBV verwag dat jy by die hond wag sodat hy nie weghardloop nie. As dit ‘n rondloper of verlore dier is, sal iemand van die kantoor dit kom oplaai.
• Na-uurs moet die dier na die buitenste hondehokke by die DBV in Meidlingerstraat in Mbombela geneem word. Daar is afgesonderde oornagsluithokke waarin hulle afsonderlik vir die nag geberg kan word. Vorms oor waar die dier gevind is, moet ingevul word.
• Mnr. Faan Prins, amptelike hondevanger van Mbombela kan by 013-759-2100 geskakel word oor losloophonde of verwaarloosde rondloophonde.
• Die Facebook-blad, Lost and Found Pets Lowveld, is ‘n nuttige kennisgewingbord waar foto’s en inligting oor verlore honde geplaas kan word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button