Hard newsLocal newsNews

Geliefde Kruger-veldwagter in hospitaal opgeneem na ernstige rugbeserings

Bekende en geliefde veldwagter van die Nasionale Kruger Wildtuin, Neels van Wyk, is opgeneem in die Medi-Clinic Nelspruit nadat hy in Mosambiek beseer is.

MBOMBELA – Mnr. Neels van Wyk, streekveldwagter van Krokodilbrug in die Nasionale Kruger Wildtuin (NKW) het Donderdagaand tydens ‘n besoek aan familievriende by ‘n vakansietuiste in Mosambiek op trappies gegly en vier meter ver geval.

Neels en sy gesin was met vakansie by die kuswoudgedeelte van Mosambiek.

Van Wyk sê dat hy omgedraai het om sy seun Wessel (7) te waarsku om versigtig te trap en toe per ongeluk self geval toe hy ‘n trappie misgetrap het.

Hy is deur vriende opgetel en in die blyplek gestabiliseer totdat hy die volgende oggend deur ‘n mediese helikopter van Aero-Med na Maputo geneem is. Die vlug het 40 minute geduur.

“Dis so wonderlik hoe almal ‘n plan gemaak het en al die reëlings in plek geval het. Ek is so dankbaar vir al die hulp. Don English en SANParke sowel as die Honorary Rangers het soveel reëlings getref. Die spinale kussing tydens die helikopterrit was ook deel van my redding,” sê Van Wyk.

Van die vliegveld is hy per ambulans van Maputo na Rosano Garcia geneem.

“Ek was nogals benoud oor hoe ons deur al die besige strate sou kom, maar dit was gelukkig nie so erg soos ek verwag het nie.”

By die grenspos is hy oorgeplaas na ‘n ER24-ambulans. Hy is om sowat 19:00 in MediClinic Nelspruit opgeneem in ‘n gewone saal.

‘n MRI-skandering is Maandag geneem om die aard van sy rugbeserings te bepaal. Van Wyk sal vandag na ‘n hospitaal in Johannesburg oorgeplaas word vir spesialis behandeling vir sy spinale frakture en aangesien daar ‘n goeie ondersteuningstruktuur vir sy gesin is.

Van Wyk is ‘n geliefde en bekende veldwagter wat al vir jare een van die voorste vegters in die bekamping van renosterstropery aan die Krokodilbrugkant van die NKW teen die Mosambiekgrens is. Sy kollegas praat met respek van hom as ‘n leier en aanvoerder van antistropingspanne. Hy is bekend vir sy liefde vir die K9-eenheid se honde en die rol wat hulle in anti-stroping speel.

“Mens sou dink dat ‘n mens eerder met al die gejagery agter renosters, olifante en stropers so ‘n ongeluk sou oorkom en nie op ‘n ontspannende aand tydens ‘n vakansie nie. Dit wys jou net, ‘n mens moet altyd op die uitkyk wees vir moontlike gevaar,” sê Van Wyk.

Hy raai vakansiegangers aan om te sorg dat alle amptelike dokumente en mediese fonds besonderhede beskikbaar is vir ‘n noodgeval.

“Ek het my les geleer dat ‘n mens altyd paraat moet wees. Selfs tydens ‘n vakansie is daar nog steeds ‘n oomblik wat ‘n gebrek aan konsentrasie tot ‘n noodgeval kan lei.”

* Lees die uitsonderlike verhaal van hoe Van Wyk leeuwelpies gered het.

* Lees hoe Van Wyk die NKW K9-eenheid help en suksesse van die spoorhonde.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button