Kaapse wynmakers kom maak ‘n draai in die Onderberg
Plaaslike fynproewers kon Saterdagaand tydens 'n wynproegeselligheid by The Buffalo Hotel aan 'n reeks eksklusiewe wyne teug.
HECTORSPRUIT – Wellington Wines se span het die hele pad van die Kaap gereis om hulle wyne aan gemeenskappe regoor die land bekend te stel en is Saterdagaand gul deur Onderbergers by The Buffalo Hotel in Hectorspruit ontvang.
Wellington Wines se voorgangers bestaan al sedert die vroeë 1900 en die maatskappy produseer wyn van wêreldgehalte.
Gaste kon aan enige ses wyne uit die reeks proe wat van ‘n ligte, vrugtige Moscato Frizzante tot ‘n donker, volronde Merlot insluit.
Xania Botha van Wellington Wines het verduidelik dat die maatskappy eers verlede jaar wyne in die Suid-Afrikaanse mark bekendgestel het en dat dit tans slegs deur hulle of by uitgesoekte handelaars beskikbaar is.
Sy het aan gaste vertel dat die gesegde, “om stokkies te draai” ontstaan het in die Kaap, waar die hele gemeenskap, insluitend kinders, moes help om die wingerde voor te berei. Op ‘n sekere tyd van die jaar moes ‘n bo-stok aan die onderstok met lap vasgedraai word. As kinders by die skool afwesig was omdat hulle op die landerye stokkies gedraai het, is dit as ‘n geldige verskoning aanvaar.
Daar was natuurlik ‘n paar kansvatters wat kwansuis stokkies gedraai het, maar dit in ‘n heel verkeerde seisoen gedoen het. So het die plaaslike spreektaal mettertyd ‘n gesegde geword.
Terwyl die volwassenes die wyne ‘n paar keer gaan proe en gesellig bespreek het, kon die kinders (en natuurlik ook hulle ouers) aan pizza van die kombuis smul.
Aangesien die wyne slegs op aanvraag beskikbaar is, is gaste aangeraai om hulle gunstelingeetplekke te vra om die wyn te begin aanhou. Die reeks is by The Buffalo Hotel beskikbaar.
Vir meer inligting, besoek www.wellingtonwines.com.


