MBOMBELA – Rudy Oosthuyse sal eersdaags op almal se lippe wees. Die bekende slagter se spesiale speserye word op groot skaal deur Crown National vermeng en landwyd versprei.
“Hulle loods ook vandeesmaand ‘n bekendstellingsveldtog wat tot en met Paasfees sal loop,” het hy opgewonde aan Laevelder gesê. “En dit gaan boonop uitgevoerword,” het hy bygevoeg.
Laevelder het Rudy in The Grove SUPERSPAR se slaghuis besoek. ‘n Gesellige atmosfeer heers in die silwerskoon slaghuis waar hy en sy kollegas lekker saamwerk.
Die groep, met Rudy aan die stuur van sake, is gemotiveerd. Hulle harde werk het daartoe gelei dat dié slaghuis al vir sewe jaar as die land se beste supermarkslaghuisbekroon is.
Rudy is al vir drie dekades ‘n slagter. “Ek het my eie slaghuis in Kempton Park bedryf. Daarvandaan is ek Broadacres toe,” het hy vertel.
Hy het 15 jaar gelede Laeveld toe getrek en was deel van die span toe Crossing SUPERSPAR se deure geopen is.
“Ek het agt jaar gelede hier by The Grove SUPERSPAR begin,” het hy gesê. Sy speseryresep is een wat oor die jare vervolmaak is.
Vir hom en baie Laevelders smaak dit eersteklas, maar sy groot klop op die skouer het van Crown National se besturende direkteur, mnr. John Morris gekom.
“Hy het dit tydens ‘n voorlegging geproe en gesê dat hulle nog nooit so iets gehad het nie. Die smaak is inderdaad uniek en besonders,” het Rudy gesê.

Hier in die Laeveld is Rudy se vleiswerk só in aanvraag dat sy karikatuurweergawe deur die spotprenttekenaar Wouter de Witt op talle van die slaghuis se produktepryk. Alles in die Rudy’s-reeks bevat sy spesiale speserye.
Lees ook: Meet the deaf cashier that attracts crowds.
Die reeks sluit biltong, droëwors, peperboerewors, kaas-en-uiewors, kaaswors, spekwors en rissiewors in. Nog een van sy unieke skeppings is ‘n kaas-en-aartappelwors. Rudy se enorme hamburgerpatties word twee-twee verpak.
“Dit bevat nie bindmiddels nie, krimp nie wanneer dit gaargemaak word nie en is net so smaaklik wanneer dit verkoel word,” het hy ingedagte gesê terwyl hy met sorg’n Rudy’s-plakker op ‘n splinternuwe pakkie patties aangebring het.
“Die plakker moet presies reg op die pakkie pas. Skewe plakkers sal nie werk nie,” het hy geprewel.

Dat die man ‘n perfeksionis is, is duidelik. Hy skryf sy sukses toe aan die Here se seën. “Ek is so geseënd,” het hy gesê. “Werklik, werklik geseënd.”
Vir almal wat met Rudy se speserye op die braaivleisvuur wil eksperimenteer, is daar goeie nuus: dit sal binnekort in ‘n 200g-verpakking beskikbaar wees.
Behalwe vir die stad se SPAR-winkels, sal Stiaan van der Merwe se Super Steers in I’langa en Riverside ook Rudy se produkte aanhou.

