Gesin vertel hoe hulle met gehoorverlies leef
Tydens Gehoorbewusmakingsmaand het Corridor Gazette by die Veiga-gesin gaan inloer om uit te vind hoe gehoorverlies hulle lewens beïnvloed het en wat hulle grootste uitdagings is.
MALALANE – Wanneer jy iets vir ‘n tweede of derde keer aan iemand moet herhaal, raak die meeste mense ongeduldig en gee op. Maar wat as die persoon jou regtig nie kan hoor nie?
Dit is die geval vir Vicki Veiga en haar seun, Sergio wat albei gehoorgestremd is. Hulle tel onder die 7,8 miljoen mense in Suid-Afrika wat, aan gehoorverlies ly.
“Die TV is ‘n probleem. Die een helfte van die gesin wil dit harder sit, maar dan is dit vir die ander te hard,” lag Vicki.
Sy het op ‘n jong ouderdom gehoorsenuweedoofheid ontwikkel nadat sy Duitse masels gehad het en het slegs ‘n klein persentasie gehoor in haar een oor. Sy het normaal grootgeword, met vier sussies, en glo dit het ook ‘n invloed op haar lewensuitkyk gehad.
“Ek gebruik nie my gehoor as verskoning nie en het dit nooit toegelaat om my terug te hou nie,” vertel Vicki.
Sergio het ook na ‘n siekte gehoorverlies ervaar toe hy ‘n paar jaar oud was. Hulle moes toe ‘n duur apparaat aanskaf.
Hy het op skool geswem en was in ‘n paar van die Beeld-trofee se wen-rugbyspanne. Sy maats het mooi saamgewerk om hom te help om sy gunstelingsportsoorte ten volle te geniet.
“Ons het Sergio nie voorgetrek nie, maar hy het ander behoeftes as sy jonger boetie gehad. Ons het probeer om sover moontlik die tweetjies eenders te behandel,” verduidelik Vicki.
Sergio het matriek geslaag en is tans suksesvol in sy werk. Hy is vasbeslote dat mense hom nie anders moet behandel nie.
Vicki vertel dat sy en Sergio sekere frekwensies en geluide nie kan hoor nie en dat die gesin alternatiewe maniere moes vind om oor die weg te kom.
As iemand nie die wekker kon hoor nie, het die twee met goeie gehoor die ander wakkergemaak. ‘n Hond het op ‘n stadium op Vicki se bed geslaap sodat sy kon weet wanneer daar skelms naby die huis is.
As dit donker is en Vicki nie iemand se gesig mooi kan sien nie, of hulle met hulle hande voor hul mond sit of mompel, sukkel sy om hulle te verstaan omdat sy lippe lees.
“Mense lag soms as ek vir hulle sê, ‘Sit die lig aan, ek kan nie hoor nie,’ maar dis waar!”
Sy sê dat ‘n gehoorgestremde maklik onseker voel of agterdogtig raak as hulle nie iemand kan hoor nie.
“Mense diskrimineer tog teenoor gehoor-gestremdes, omdat hulle dink dat jy nie normal kan funksioneer nie. Mense moet ophou om hulle te bejammer en moet hulle eerder net bedagsaam hanteer,” sê Carlos.
Vicki moedig mense aan om hulle gesinne se gehoor te laat toets.
“Kyk dieper na kinders en volwassenes se probleem. Al is dit ‘n duur storie kan dit baie probleme oplos en kan jy ‘n goeie lewe lei.”
Sy moedig mense ook aan om met hulle te praat, vriendelik te wees en uit te vra oor hulle toestand en hoe mense hulle tegemoet kan kom. “Baie gehoorgestremdes lyk onvriendelik omdat hulle bang is vir mense se negatiewe reaksies. Maak oogkontak en wees net bewus van wat jy doen.”
