Verlengde kragonderbreking: inwoners boos, stad sonder antwoorde
Die krag sou Sondag tot 18:00 af wees. Dit het eers 21:00 aangegaan.
MBOMBELA – Inwoners van Steiltes en Riverside was Sondagaand woedend toe Eskom se beplande 12 uur lange herstelwerk langer as beplan gesloer het.
Mbombela-stad se munisipaliteit het inwoners weke gelede al daarop bedag gemaak dat die elektrisiteit in dié areas vanaf 06:30 tot 18:00 onderbreek sou word.
Tog is die krag in Steiltes eers teen 21:00 herstel.
Munisipale woordvoerder mnr. Joseph Ngala kon nie teen druktyd verduidelik wat die rede daarvoor was nie omdat hulle eers terugvoer van die Departement van Energie moes kry.
Lees ook: Televisieprogram red jongman se lewe
Eskom sou opgraderings by substasies en aan kragdrade doen, terwyl die munisipaliteit met opgraderings- en herstelwerk aan substasietoerusting en oorhoofse strukture besig sou wees.
Sommige inwoners was teen 18:00 warm onder die kraag en het hulle tot sosiale media gewend om gal te braak en te probeer uitvind wanneer die krag weer sou aankom. Ngala kon nie verduidelik hoe inwoners van die ekstra ure bewus gemaak is nie.
Lees ook: Another power outage planned for Mbombela
Ander inwoners het egter die beste van ‘n slegte saak gemaak. Mnr. Lean van Kradenburg het die mense wat die herstelwerk gedoen het, bedank. Me. Melani Bisaro het in Engels geskryf, “Dankie dat julle op ‘n Sondag gewerk het. Ons het ‘n lieflike geraaslose dag gehad! En ‘n spesiale aand met sonlampe en ‘n braai.”
