Man in Witrivier aangeval vir ‘n selfoon en sigarette
"Ons het al voorheen by julle kamervenster gestaan en luister terwyl julle gesels."
Terwyl Carte Blanche se insetsel oor plaasaanvalle – waarvan daar luidens onlangse statistiek een per dag plaasvind – verlede Sondagaand uitgesaai is, is nóg ‘n plaas in die Heidevallei geteiken.
Drie verdagtes het omstreeks 19:30 toegang tot die plaas Valle Vede, waar mnr. Johan Raubenheimer en sy gesin woon, verkry deur die heining te knip. Hulle het verder deur ‘n oop deur tot die huis toegang gekry. Raubenheimer (47) het reeds gelê en slaap en het wakker geskrik van sy vrou se gil. “Voordat hy kon reageer, was die verdagtes op hom in die kamer. Een het hom met ‘n klip bygedam, waartydens hy ernstige beserings aan sy hand en neus opgedoen het,” het mnr. Dian Pretorius, voorsitter van AfriForum se buurtwag in Witrivier gesê.
Die aanvallers het glo vir die Raubenheimers gesê dat hulle al vir ‘n geruime tyd dopgehou is. “Ons het al voorheen by julle kamervenster gestaan en luister terwyl julle gesels, daarom ken ons selfs julle honde se name,” het die verdagtes tydens die aanval gesê.
Twee van Raubenheimer se drie kinders (‘n 13-jarige seun en twee dogters van 16 en 17) kon wegkom en na die buurman se huis hardloop. Hy het Raubenheimer se foon geskakel maar een van die booswigte het geantwoord, “Johan is dead”, waarna die oproep beëindig en die foon afgeskakel is.
Die verdagtes het op wapens en geld aangedring, maar kon slegs daarin slaag om met selfone en sigarette te vlug. Die polisie, verskeie sekuriteitsmaatskappye, Bossies Community Justice, Heidel Plaaswag, AfriForum Witrivier Buurtwag, Nelspruit Concenerned Citizens en verskeie lede van die publiek was betrokke by die soektog na die verdagtes. Hulle spore is tot by die buitewyke van Msholozi gevolg, maar het geen vrugte afgewerp nie.
Sers. Cynthia Mbokodo, woordvoerder van die Witrivier polisie, het bevestig dat geen arrestasies nog gemaak is nie.
