VLU Lebombovallei-lede vier sestien jaar van inspirasie en vlyt
Die VLU-tak in Komatipoort het op 16 Maart hulle sestiende verjaarsdag met 'n jolige byeenkoms gevier en die jaar se presteerders vereer.
KOMATIPOORT – Lede van die VLU Lebombovallei het die tak se 16de verjaarsdag op 16 Maart by Acasia Lodge met sjampanje, inspirasie vir die jaar en ‘n prettige fotosessie gevier.
Die tak het in 2001 herleef nadat dit doodgeloop het en geniet deesdae al hoe meer belangstelling.
Jorietha Heymans, ‘n bekende verpleegsuster in die dorp, is tydens die vergadering met ‘n toekenning vir haar toegewyde en onbaatsugtige dienslewering in die gemeenskap vereer. Sy het siekes tuis besoek, senior burgers voor werk met hul medikasie gehelp, pasiënte na afloop van operasies tuis bygestaan, en was baie betrokke by kankerpasiënte en KANSA. Die vroue moes ook van haar afskeid neem aangesien sy en haar gesin binnekort na Kroonstad verhuis.
Die lede het vanjaar uitstekend met hul kompetisieartikels gevaar en die tweede plek op provinsiale vlak verower. Hulle was derde in die streek met 2 681 punte. Stella du Preez het ‘n tweede plek behaal, Maryke Fouché ‘n eerste en voorsitter Margit Maree het ook ‘n paar pryse ingeryg.
Tydens die onlangse konferensie is Franci Botha vir 30 jaar, Jolene Caldeira vir 15 en Jacorette Botma vir 10 jaar as lede vereer.
Caldeira het aan die nuwe vroue verduidelik dat die VLU se hoofdoel is om lede te verryk en nuwe vaardighede te leer. Vroue kan kies om aan kompetisies deel te neem of net vergaderings vir die opbouende, gesellige kuiertjies by te woon. Gassprekers word ook gereeld genooi om vroue te verryk.
Die tak het ‘n hartskombersprojek waar sekere lede elk twee blokke hekel, en dit aanmekaarwerk word en in ‘n spesifieke maand aan ‘n persoon te oorhandig.
Die VLU is groot voorstanders van Red die Planeet en gaan op 25 Maart aan die jaarlikse Uur vir die Aarde deelneem. Daar word wêreldwyd ‘n beroep op elke persoon gedoen om vir ‘n uur lank hul ligte af te skakel as deel van die stryd teen klimaatsverandering en aardverwarming.
FOTO’S: VLU Lebombovallei klink ‘n glasie op hul 16de verjaarsdag
Die VLU se tema vanjaar is “Die krag van vroue” en Caldeira het met die hulle gesels oor Emily Hobhouse wat ‘n voorbeeld en inspirasie is.
Sy was ‘n Engelse dame wat tydens die Anglo-Boereoorlog gepoog het om die lyding van duisende boervroue en -kinders in konsentrasiekampe te verlig.
Die tak hou elke derde Donderdag van die maand ‘n byeenkoms en nuwe lede is welkom. Navrae: Joelene Caldeira by 082-772-7133.
