Ondersteun nuwe studiefonds vir plaaslike leerders
Gee plaaslike leerlinge die kans om 'n rentevry-studentelening te bekom en hulle studie-drome te bewaarheid deur tot Helpende Hand Onderberg se nuwe studiefonds by te dra.

KOMATIPOORT – Die Onderberg-tak van Solidariteit Helpende Hand het onlangs hulle eie studiefonds vir kinders in die gemeenskap gestig.
Volgens die takvoorsitter, Tienie Swart, het hulle besluit om ‘n R10 000-studiefonds met hul eie geld te stig. “Hierdie fondse kom uit die bydrae van ons ondersteuners en ons wil graag op hierdie manier iets aan die gemeenskap teruggee. Ons doelwit vir 2017 is om R100 000 in te samel om behoeftige kinders in ons gemeenskap by te staan met ‘n rentevrye studielening,” sê Swart.
LEES: Samesmelting van twee takke laat Helpende Hand nou sterker staan
Gemeenskapslede wat graag dié en ander plaaslike Helpende Hand-inisiatiewe wil steun, kan as ondersteuners teen R50 per maand aansluit. Hulle fooie gaan gebruik word om die studiefonds se bedrag aan te vul sodat meer kinders uit die gemeenskap kan gaan studeer.
Die ondersteuners kry die voordeel van gratis aanlyn-wiskundeklasse vir gr. 4- tot matriekleerlinge. Vir alle bydraes kan ‘n Artikel 18A-sertifikaat uitgereik word wat by SARS ter belastingverligting ingedien kan word.
“Helpende Hand glo nie om iets verniet te gee nie, daarom gee ons rentevrye studielenings. Wanneer die kind begin werk, begin hulle die geld terugbetaal, sonder enige rente.”
Swart sal gereeld terugvoer oor die vordering van die fonds in Corridor Gazette gee, maar vir meer inligting kan sy geskakel word by 082-253-8965.
