Regering wil brandstigters vasvat
"Diegene wat wel die gemeenskap se belange ter harte neem, sal nie 'n oplossing probeer kry deur geweld nie."
‘n Massiewe inisiatief is onlangs van stapel gestuur om die onrus wat die afgelope drie maande in die omgewing bestaan, in die kiem te smoor.
Dit volg na die mees onlangse voorval waarin verskeie skole in die Marite-, Madras- en Bosbokrand-gebied afegbrand is. Die LUR van die provinsiale departement van veiligheid en sekuriteit, mnr. Pat Ngomane, het gesê dat dit uiters ontstellend is om te sien hoe infrastruktuur van miljoene rande, nou in puin lê weens betogers se ongevoeligheid teenoor die gemeenskap en hul belange.
“Diegene wat wel die gemeenskap se belange ter harte neem, sal nie ‘n oplossing probeer kry deur geweld nie,” het Ngomane gesê.
Sy het bygevoeg dat hulle onverpoosd sal poog om die kwaaddoeners aan die pen te laat ry en het die arrestasie van vyf verdagtes verwelkom.
Hulle het onlangs vir aanklagte van diefstal in die Mkhuhlu Landdroshof verskyn en is elk op R4 000-borgtog vrygelaat. “Die regering veroordeel die wetteloosheid van die betogers ten sterkste,” het Ngomane afgesluit.
Die staande komitee oor onderwys het dié dade as lafhartig uitgekryt. “Dit is teleurstellend dat ‘n skool afgebrand word ten einde ‘n geteerde pad na hulle huise te kry. Om eiendom te vernietig is onaanvaarbaar, ongeag die geldigheid van hulle besware,” het die voorsitter van die komitee, me. Lungelwa Zwane gesê.
Also read: Elderly man assaulted during R40 protest
