Musiekliefhebbers verlustig hulle in klassieke kuns
Die Laeveldse Kamer-musiekvereniging het Saterdagaand weer in Walter Fourie se huis in Millerstraat 'n aand van musiek aangebied.

MBOMBELA – Deirdré Blignaut-Rautenbach het as sopraan opgetree, met Eugene Joubert in die rol van pianis.
Die stoep vol mense is onder andere met transkripsies van Siloti en Gieseking, en pragtige weergawes van “Danny boy”, “My man’s gone now”, en selfs die siklus, Sewe Boerneef-liedjies bekoor.
Sommige van die musiekliefhebbers het die hele pad van Hazyview af gery om die klassiekemusiekaand by te woon, ander was weer gereelde besoekers uit die omgewing. “As daar goeie wyn of goeie musiek of albei is, sal ons kom!” het een gesê.
Die twee musici is na hulle laaste item, “Lied aan die maan” uit die opera, Rusalka van Dvorak staande toegejuig en ‘n paar lede van die gehoor het selfs ‘n traan of twee gepink.
“Ek lewe vir die romanse. Ek sal altyd oor liefde sing, of dit nou somber of opbeurend is!” het Blignaut-Rautenbach gesê.
Sy voeg toe by, “Ja, ten spyte van die intense klanke wat uit daardie klavier kom, Eugene het regtig net twee hande!”
Lees ook: Gallery: It is time – compilation







