Plaaslike kwartet se wye repertoire beïndruk gaste
Musiek van Phantom of the Opera en ander gunstelinge uit die operas het op 21 April tydens 'n uitvoering deur plaaslike musiekgroep, Qquartet skouers geskuur met treffers soos Andrew Lloyd Webber se "Memories" en A Great Big World se "Say Something".
KOMATIPOORT – Etienne van der Nest, Marian du Plessis, Hannes Eloff en Riana Eloff, wat al vir byna vier jaar as Qquartet saamsing, het die gemeenskap vir ‘n musiekaand by die NG Kerk genooi en hulle met hul wye repertoire vermaak.
Al vier is ervare musikante wat by ‘n verskeidenheid geleenthede plaaslik en elders optree en het besluit om twee keer per jaar ‘n spesiale optrede vir die gemeenskap te hou.
Etienne, wat in Marlothpark bly, is ook bekend as die Cooking Tenor en tree plaaslik en in Europa op. Hy kombineer kosmaak met sy sang, en vermaak ook gereeld gaste by die familie se oord.
LEES hier meer oor die Cooking Tenor.
Marian is ‘n sanger met drie albums agter haar naam en lei ook jong sangtalent by haar musiekskool op.
LEES meer oor Marian en haar dogter, Chimoné, se CD’s en musiekloopbane.
Hannes Eloff is ‘n rugbyafrigter en hoofsanger van die plaaslike rockgroep BackStage. Sy ma, Riana, is ‘n opgeleide operasangeres wat as musiekonderwyser belowende jong musikante help om hulle talent te ontgin.
LEES: Rock is a full-time passion for Komatipoort band.
Vriende, familie en musiekliefhebbers het in vervoering gesit en luister na hul pragtige optrede en party het selfs ‘n paar trane weggepink.
Etienne het met ‘n geestelike lied, “Glorious” afgeskop, waarna Hannes ‘n pragtige weergawe van Frank Sinatra se “Fly Me to the Moon” gesing het. ‘n Opera-aria deur Riana het daarna gevolg wat haar vermoë om ligvoets tussen die hoë note te trippel, ten toongestel het.

Hannes en Riana het daarna die legendariese “Barcelona” van Freddy Mercury en Montserrat Caballé aangedurf en in perfekte harmonie gesing. Marian se pragtige stem en liefde vir die Here het geskitter toe sy Juanita du Plessis se “Altyd Daar” tydens die tweede helfde gesing het.
Geestelike treffers soos “I Surrender All” en “10 000 Reasons”, kontemporêre treffers soos “Killing Me Softly with his Song”, “Somewhere Over the Rainbow”, “Danny Boy” en “Time to Say Goodbye” was ook op die program. Die sangers het solo’s en duette aangebied en ‘n paar liedjies as kwartet saamgesing. Die verskeidenheid genres en style, en die sangers se vaardigheid het die gehoor tydens die pouse oor koppies tee, koffie en skons aan die praat gehad.

Die groep het op ‘n hoogtepunt afgesluit met “O Sole Mio” en talle lede van die gehoor het saamgestem dat hulle definitief nie die volgende plaaslike optrede sal misloop nie.

Qquartet bedank graag almal wat handjie bygesit het om die optrede ‘n sukses te maak.
Vir meer inligting oor die groep en hul optredes, besoek hulle Facebook-blad, Qquartet, of skakel 082-472-3228.
