Weggooidoeke en onwettige myners besmet rivierwater
Die Krokodilrivier se water is so besoedel deur weggooidoeke en ander stowwe dat kenners waarsku dat die kwaliteit daarvan ernstig benadeel is.
MBOMBELA – Weggooidoeke, onwettige sand- en goudmyners en rou riool besoedel die Krokodilrivier al hoe meer.
Dié faktore is uitgewys in verskeie verslae wat by ‘n onlangse vergadering aan die Krokodil-rivierforum voorgelê is.
Caroline Thowana van die bestuurs-agentskap van Inkomati/Usuthu-opvangsgebied (IUCMA) het aan die sowat 40 lede van die forum gesê dat chemikalieë in die rivierwater verantwoordelik was vir meer as 250 visse wat onlangs by Louisville dood is.
Die middels kan arseen insluit. Onwettige myners gebruik dié gifstof om goudklonte te verwerk.Daarna word die goud en rotse in die rivier afgespoel.

Onwettige mynbedrywighede in die Laeveld los nie net letsels in die omgewing soos teen hierdie berg nie maar beinvloed ook rivierwater.
LEES ook hoe onveilig onwettige myners dorpe in die Laeveld maak
Die voorsitter van die forum, Theo Dormehl, ‘n kenner op die gebied van waterontleding, het daarop gewys dat sulke swaar metale in water ‘n langtermyn-neerslag in die brein tot gevolg het en waterverbruikers se gesondheid nadelig kan beïnvloed.
Verteenwoordigers van IUCMA het daarop gewys dat die bou van woongebiede sonder dat voorsiening gemaak word vir rioolverwydering, een van die grootste probleme is en bly.
Onlangs is daar weer in die informele Entokozweni- woonbuurt begin met die oprigting van drieverdiepinghuise op die vloedlyn.

“Hierdie onwettige gebruike is al vele keer met munisipaliteite bespreek, maar geen resultate is behaal nie,” het Dormehl gesê.

“Die weggooidoeke is ‘n groot uitdaging,” het Thowana gesê.
Volgens haar is die E.coli-tellings van die middel en boonste gedeelte van die rivierwater hoër as aanvaarbare gesondheidsvereistes.
“Dit kan toegeskryf word aan rioolmangate en pompstasies wat nie werk nie sowel as rioolsuiweringwerke wat net gedeeltelike behandelde riool in die rivier stort.
‘n Verdere bydraende faktor is sand wat onwettig uit die Krokodil-rivier gemyn word. Dormehl het verduidelik dat buitebande dikwels deur onwettige sandmyners op rotse verbrand word om dit op te breek en sand makliker uit te grawe.
LEES hoe onwettige sandmyners ons riviere skade aandoen
