Local newsNews

Liesbet van die Laeveld-blog: Knysnabrande – Waar is Oupoot?

"Waar is Oupoot?" wonder ek toe ek van die Knysna-brande se nood, ook onder die diere, hoor en terugdink aan Knysnawoude van destyds, 'n onderhoud met Dalene Matthee en wat ek by dr. Sam Ferreira van die Kruger-wildtuin oor olifante geleer het.

MBOMBELA – So sien ek toe nou destyds in die negentigerjare vir Dalene Matthee vir ‘n onderhoud vir Sarie oor  haar roman Susters van Eva.

Ewenwel, ons twee trek bos toe in tekkies om olifante se spore te soek, oor letterkunde te gesels en veel meer.

Twee kletsbekke op ‘n missie.

Nie dat ek veel van ‘n woord kon inkry nie. Dalene was ‘n onderhoudende gesprekvoerder wat jou kon uitkyk en platkyk met een blik so oor haar bril en haar welluidende stem het volrond aan haar woordjuwele geproe. Mens het jou verluister aan haar.

Dalene Matthee. Foto: NB Uitgewers

Sy was mos nou ook versot op varings ook en verkleurmannetjies. Ek ook; so ons het veel gehad om oor te gesels en te soek behalwe die boek terwyl ons die stil reuse nêrens en orals in ons verbeelding sien.

Foto: www.dalenematthee.com

Spoor vir spoor. Dis nou dié in ons koppe. ‘n Spoor groter as ‘n groot man se hoed sou iemand vir ons beduie.

Dit was wel ook die dag wat sy my gewys het hoe sy feëtjies sien, maar dis nou ‘n ander storie.

Foto: Explore Knysna Facebook

 

Geen olifant het ek die dag gesien nie, maar wel die gevoel gehad iets kyk vir my. Ek het geluister of ek iets hoor knars en trap, maar net die loeries het die bos se dak oop geskree.

Oupoot aan die wegkruip. Foto: Explore Knysna: Facebook

So terloops, ek leer toe ook onlangs in die Kruger-wildtuin by olifantnavorser Sam Ferreira olifante loop in sirkels as hulle jou wil vermy. Volgens Sam sal olifante met ‘n passie die hasepad (woordspeling onbedoeld…) kies as hulle kan. Al wat hulle nastreef is vars water, koelte, goeie weiding en ‘n modderspeelplek asook ‘n geriefsone sonder mense se teenwoordigheid.

Dr. Sam Ferreira, olifantkenner van die Kruger-wildtuin, tydens ‘n navorsingtog

Lees meer oor dr. Sam Ferreira se nuwe boek.

Ewenwel, ek sou tog nog vir Dalene wou vra of dit is waar die titel Kringe in die Bos vandaan kom. Sirkelstappies om weg te vlug. Klink gepas as mens aan die tema dink..

Want nou maak die titel nog meer sin. Olifantwysheid.

In die Kruger-wildtuin het ek ook die afgelope jaar dikwels die gevoel gekry iets hou jou dop en dan was dit gewoonlik ‘n olifant as jy fyn kyk.

Lees oor die nag toe ek wel ‘n hiëna in die Kruger-wildtuin raakgeloop het…

Om saam met olifante onder die Laeveldsterre in die donker te staan en net die gekraak van takke te hoor en skimme teen die lug te sien beweeg, hoe raar voorwaar. Was my voorreg in Shingwedzi.

Olifant in die Noorde van die Kruger-wildtuin. Foto: Dean du Plessis

Maar terug na Knysna se diep bosspore.Dalk is ek wel die dag raakgesien deur die koei met haar een en ‘n halwe tand. Wie sal weet?

Ewenwel , dit was een van daardie geleenthede wat jy as ‘n joernalis huis toe gaan sonder notas en maar weer moet bel om aanhaalwoorde te kry. Jy het te veel pret gehad om die artikel te kry wat die redakteur wou gehad het.

Dis toe ek nou die eerste Knysnabrande-nuus kry wat ek Dalene se gedagte kry en so bekommerd begin raak oor Oupoot, die eensame swerwersenkeling grootvoet in die woude naby die brandwoude .

‘n SANParke-veldwagter in die SANParke Tuinroete Nasionale Park tydens die Knysna-brande van Junie 2017.

Ek maak toe nou-nou die oproep na die SANParke Tuinroete Nasionale Park en hoor niemand weet (soos gewoonlik) waar Oupoot is nie. Al wat hulle kon sê is dat sy nie aan die brandkant van die bos was toe sy laas skrams gewaar is nie. Die pad na dié kant van die bos is egter afgesper om te verhoed dat daar te veel verkeer soontoe is.

Die ou matriarg sê die woordvoerder is glo tans weer erg aan die swerf tussen die inheemse bos en die konsessies maar geen area sal in elk geval bekend gemaak word nie aangesien daar ook vir stropers liggeloop moet word.

Gedagtes aan Oupoot en Dalene spook nou by my terwyl ek dink aan Knysna se mense wat nou nuwe spore in hulle lewens moet trap.

As julle die diere se lot en nood ook wil aanspreek skakel asb 044 384 1603 wat Knysna se Dierewelsyn se kantoor is. Jy kan ook die woord Care stuur aan 38018 wat die Nasionale kantoor van die DBV is.  As jy dalk ook weet van iemand wat nog niks hulp gekry het met hul diere of met voorrade nie, stuur asb Whatsapp na Wenessa Nunes op 0823020288.

So ook ter nagedagtenis aan Dalene.

Lees meer oor Dalene Matthee se bosboeke 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button