Local newsNews

Bekroonde skrywer se kragtoer voer lesers weg

Hertzogpryswenner Etienne van Heerden het nie vooraf besluit, "China is besig om Afrika te kolonialiseer en 'n roman daaroor sal nou baie gepas wees" toe hy Die wêreld van Charlie Oeng geskryf het nie.

MBOMBELA – ‘n Skrywer moet eerder met ‘n prentjie begin as met ‘n tema. En die prentjie was Charlie Oeng wat met ‘n sak sout in sy kruiwa oor die brug loop.

“Nou soek jy nog prentjies. Wie is hy? Waar kom hy vandaan? Wat het hy gedoen?” verduidelik Van Heerden.
Hy erken egter ruiterlik dat ‘n landskap altyd een van die hoofkarakters in sy boeke word.

“Almal ken die beeld van die Italiaanse Mafia in New York wat ouens wat hulle vies maak in ‘n emmer vol nat sement laat staan en wanneer die sement gestol het, tiep hulle hom oorboord in die Hudsonrivier. Nou-ja, so is my onderbene ingemessel in Afrika en dit blyk uit my skryfwerk.”

In hierdie roman vertel hy die verhaal van Oeng se kleintyd en grootwordwêreld in die agterkamers en onderwêreld van Amsterdam, en sy vlug via die Ooste na die Oos-Kaap waar hy op die soutpanne gaan werk en ‘n ou vriend uit Nederland weer ontmoet. Oeng se wêreld lyk egter nou anders en daar is ook iemand wat sy lewe sin gee. Hierdie wêrelde kom egter in botsing met die politieke gees van die tye in die Oos-Kaap.

Om die minste te sê, ‘n plofbare situasie word geskep.

Van Heerden het op ‘n plaas in die Oos-Kaap groot geword waar sy pa ‘n merinostoetboer was. In hierdie roman speel ‘n prokureur wat ‘n boer is, ook ‘n belangrike rol.

Die M-Net-pryswenner en emeritusprofessor aan die Universiteit van Kaapstad, het verskeie navorsingsreise onderneem om reg te laat geskied aan die feite rondom Oeng se reise en wedervaringe, ook onder meer na Amsterdam. Dié Nederlandse stad is ook deel van een van die agtergrondstede in sy roman 30 Nagte in Amsterdam.

“Amsterdam ken ek goed. Die lekkerste hierdie keer was om tydens navorsing vir hierdie roman saam met ‘n Nederlandse vriend, Maurice Jorisson, in sy bootjie op die gragte te vaar en so die Chinese buurt en omliggende dele van Amsterdam te verken,” verduidelik Van Heerden.

Kenmerkend van die roman is die rol wat blinde siendes weer in sy skryfwerk speel.

“In Kikoejoe was daar klein Fabian met sy een oog, in Die Swye van Mario Salviati die doofstom en blinde klipsnyer Mario. En nou in hierdie roman die blinde Ouma Ogies met die voorsienigheid. Ek is blind in die een oog gebore en daarom, reken ek, is dit ‘n kwessie wat by my spook.

“Wat is sien? Hoe kan verbeelding ons dinge laat sien in prentjies wat nog nie bestaan nie?”

Die politieke situasie in die Oos-Kaap in die sestigerjare is deel van die oorhoofse verhaallyn. Vir Van Heerden wat die Oos-Kaap al dikwels as agtergrond in sy verhale gebruik het, is daar ooreenkomste met die land se situasie vandag.

“Disinformasie, spioenasie, domheid, stereotipering, onderdrukking, vervreem-ding, migrasie, bloed. Dit word als aangespreek. Die roman lewer direk kommentaar op ons lewe vandag.”

• Innibossers is van die eerste lesers landwyd wat die langverwagte boek van Hertzogpryswenner Etienne van Heerden, Die wêreld van Charlie Oeng, se bekendstelling kan bywoon by Woorde Innituin op Vrydag 7 Julie om 12:00 in die Suikerbossie-teetuin op die Barberton-pad. Toegang is R157 (ligte verversings en drinkgoed is ingesluit). Kaartjies vir al Innibos se produksies is by Computicket beskikbaar.

Foto krediet: www.etiennevanheerden.co.za/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button