Met die dop se skop verdwyn alle pretensies
By Innibos is die deure van die kroeg wawyd oop in die debuutkomedie Is die bar al oop? uit die pen van Nico Luwes, ook regisseur van die stuk.

MBOMBELA – In dié klug gaan dit om Popeye Smit en sy vrou Bianca-Joy wat ‘n stylvolle Chinese ete voorberei vir hul dogter se skoonouers, die snobistiese dr. Neels Badenhorst en sy warm-verpleegster-cum-skopbokser-vrou Roxy met ‘n swak vir shooters. Teen die tyd wat die getroude kinders opdaag om na die trouvideo te kyk, bars chaos los.
Hierdie stuk is vir die hele gesin, sonder ‘n enkele vloekwoord.

Nico verklap dat een van sy skryfgeheime is dat hy graag ‘n verlede oor die karakters opmaak. “Hoekom is hulle soos hulle is? Hoekom reageer hulle op ‘n spesifieke manier op die omstandighede? Vat nou maar vir Popeye. Hy kon nie gaan swot nie maar hy is ‘n baie goeie man vir sy vrou en ontsettend lief vir sy dogter.

Hy werk ontsettend hard en is baie suksesvol as besigheidsman, maar hy haat pretensie! Hy is wie hy is en het vrede met himself. Hy is lief vir almal en almal is lief vir hom. Ek ken baie sulke mense,” sê hy.

Oor die karakter Bianca-Joy – “wat ‘n grand dubbeloopnaam!” – sê Nico: “Haar ouers het haar klaar in ‘n persoonlikheid ingedoop wat bo ander probeer uitstyg. Nou het sy een ou foutjie gemaak, maar daardie geheim hou sy dig. Sy soek klas en sy is ‘n bietjie skaam vir Popeye se aardsheid, maar boeta, moenie haar man beledig nie!

“As teenpool is daar natuurlik ou Dok Niel wat sy siel verkoop aan Mammon en reken geld gee hom klas. ‘n Absolute snob wat oor niks anders kan praat nie. Dié karakter is tot ‘n groot mate geskoei op iemand wat ek geken het. Daai soort wat alewig vir almal vertel hulle prognose is nie goed nie omdat hulle te veel vet skaapvleis eet en dan vang jy die donner by die strandhuis in die kombuis waar hy skelm allen staan en eet aan die gebraaide heel skaap. Hy verdien sy tweede vroutjie, Roxy, wat hom aarde toe moet bring. Roxy is sommer ‘n paartiegirl wat hou van die lewe.”

Nico verduidelik die verskil tussen ‘n komedie en ‘n klug: “In ‘n komedie moes dinge werklik met regte mense kon gebeur. In ‘n klug is die karakters en gedrag groter as die werklikheid en alles kon moontlik gebeur met ‘n goeie skoot waansin. ‘n Klug bied die vryheid om te vra ‘hoekom nie?’ en dan kan ‘n mens lekker laat loop met die verbeelding!
Uiteraard neig klugkarakters meer na stereotipes.”

In die stewige rolverdeling is Esther von Waltsleben, Dion van Niekerk, Thys Heydenrych, Chanmari Erasmus, Ané van den Berg en Charl Henning. Nico sien sy rol as regisseur eerder as dié van ‘n spelleier: “Ek dikteer nie en laat die spelers self die vleis om die geraamte sit.”

In die drama-komedie Dop met André Odendaal en Wilhelm van der Walt slaan die donkerte soms deur. Die karakter Frank Venter verjaar, in die kroeg, met net die kroegman Tim om as klankbord op te tree. Frank soek in die praat ‘n manier om sy bestaan te bevestig terwyl Tim ook sý hart wil uitpraat.
Dop vir dop vloei die pretensie en voorgee weg, maar nie sonder humor nie. Die teks is deur Retief Scholtz geskryf en die regie word gedoen deur Sylvaine Strike.

Die volledige program is by innibos.co.za beskikbaar en kaartjies is by Computicket te koop.
• Dop: Woensdag 5 Julie, 14:00; Donderdag 6 Julie, 18:00; Vrydag 7 Julie, 10:00 en Saterdag 8 Julie, 14:00.
• Is die bar al oop? Woensdag 5 Julie, 10:00; Donderdag 6 Julie, 16:00; Vrydag 7 Julie, 10:00 en Saterdag 8 Julie, 15:00.
