Local newsNews

Dolla op dolle vaart deur kuberruim

In haar nuwe "eenvrou"-vertoning, #dowwedolla, beweeg Dolla bietjie weg van politiek, "want dis regtig nou boring", alhoewel daar elke nou en dan 'n onbeplande dwarsklap per ongeluk "gebeur".

MBOMBELA – Dolla storm die gevaarlike kuberruimte in om die verskil tussen Twitter, Facebook, Instagram en Solitaire te probeer deconstruct. Sy onthul die werklike redes hoekom vroue nog mans “aanhou”, sy ontleed die Suid Afrikaanse “braai” in detail uit ‘n blonde-sielkundige oogpunt .

In die proses word ingewikkelde onderwerpe soos trofeejag, homopatie, arachnofobie en hondsdolheid onder die vergrootglas geneem. En vir die eerste keer, maak ouma Dowe Dolla (ook vertolk deur Margit Meyer-Rödenbeck) ook haar verskyning op die verhoog om ‘n meer wyse en historiese (of is dit nou histeriese?) perspektief aan alledaagse gebeure in ons land te gee.

Verwag nog ‘n lag-per-minuut-woorde-tsunami van Suid-Afrika se gunstelingblondine.  Dowwe Dolla se ouma kom vanjaar saam en volgens alle aanduidings laat sy gehore nog méér lag. Dit is die eerste keer in die 18 jaar van Dolla se bestaan dat Meyer-Rödenbeck nog ‘n karakter op die verhoog sal hê, selfs al is dit ook deur haar vertolk.

Madeleine Barnard skryf ouma Dowe Dolla het op die KKNK “met ‘n heuglike handsak oor die arm en ‘n TV-afstandbeheer met pap batterye in die hand op die verhoog verskyn”. “Ouma het geen brieke nie. Sy grawe ‘n halfjack uit haar handsak en skink. En sy sê presies wat sy dink.

“Sy teef oor die jongspan en hul slimfone, seksuele teistering, vet kinders, tatoeëermerke. Sy laat haar met groot oorgawe uit oor jong mense wat dink hulle kan sing en dan loopbane maak met name soos Rudi Runderpes. “Sy mymer oor die goeie ou dae van Frank Sinatra, Bing Crosby en Bles Bridges. Sy rap so ‘n stukkie. Sy verlang na die ou Huisgenoot met dr. Chris Barnard en André Stander. En dan sit sy haar dop neer en skuifel van die verhoog af.”

Meyer-Rödenbeck sê dit kos konstante herskepping om Dolla relevant te hou. Baie het al oor die jare verander, behalwe die pruik. En nou is daar ouma Dowe Dolla. Volgens haar is Dolla lankal nie meer ‘n karakter nie. Sy is haar eie mens met haar eie persoonlikheid en haar voorkeure en afkeure. Sy hou van dié soort rok en daai soort skoene.

Sy hou nie regtig van “Zumpies” nie en die vroue van Brakpan loop ook onder haar tong deur. Op die KKNK het sy aan Rozanne Els gesê “dis lekker dat Dolla oorneem – ek sal te skytbang wees om self, as Margit, op die verhoog te wees. My selfbeeld is hopeloos te swak. “Maar dit is nie vreemd nie.

Die meeste kunstenaars is introverte en het nie ‘n goeie selfbeeld nie. Op 46 is ek definitief nou by ‘n punt dat ek weet dit is oukei om nie oukei te wees nie. “Dit is een van die min perks van ouer word,” het sy geskerts. Jurgen Human, Meyer-Rödenbeck se wederhelf, het die liedjies en teks vir #dowwedolla geskryf en Emile Minnie het leiding geneem met die musiek en spel.

Die komedie was een van die 10 topverkopers op die KKNK. Deur Elretha Britz vir Volksblad.

#dowwedolla is op 4 en 5 Julie om 19:00 en op 6 Julie om 11:00 by Laerskool Laeveld te sien. Tydsduur: 75 minute. Geen onder 12 jaar. (Taalgebruik). Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button