Local newsNews

Dwalings verken in donker komedie

Nog voordat hy 'n woord gesê het vermoed 'n mens reeds onraad

In menige huldeblyk aan PG du Plessis ná sy dood verlede maand, is melding gemaak van sy menslikheid, dat hy so ‘n méns was, asook van sy kennis van die mens. Kennis van die mens se gebreke het hy gewis gehad.

Maar eweso ‘n deernis vir die mens in al sy gebrokenheid, selfs vir die mens wat ‘n legio dwalings in hom of haar ronddra. Dít kom in PG se werk kwalik duideliker na vore as in sy Nag van Legio, die 1969-drama waarvoor die Akademie in 1972 die Hertzogprys aan hom toegeken het.

Gewoon die feit dat PG sy Nag van Legio in ‘n inrigting plaas (soos in die tragikomiese werk van Friedrich Dürrenmatt), benadruk die menslikheid van die ses hoofkarakters en skep terselfdertyd ‘n geneentheid aan die kant van die gehoorlid vir die dwalinge wat hulle voltrek. Boosheid kan ‘n mens dit noem. Maar durf ‘n mens jou eie dwaling by die naam noem as jy dit so direk in die oog moet kyk soos in dié drama.

Die boosheid wat PG uitwys is dié een wat as skaapagtigheid, as klakkelose navolging begin. Sekerlik een van die gebreke wat ons almal daagliks aan die vel voel.

As regisseur lig Albert Maritz dié gegewe knap uit en skep ‘n produksie wat nie verwyderd op ‘n verhoog afspeel nie, maar die gehoor ráák. Juis omdat ‘n mens simpatie vir die menslikheid het, kan jy die dwaling in jouself raaksien. Is dit nie juis wat teater moet wees nie?

Met die binnekoms van Dogoman, ‘n ou man met “verskrompelde hande”, soos PG dié karakter voorstel, skep Albert reeds spanning deur André Roodtman te klee in ‘n rooi japon. Nog voordat hy ‘n woord gesê het vermoed ‘n mens reeds onraad. André laat reg geskied aan sy rooi japon met spel wat waansin so natuurlik laat lyk.

Dirk Jooste met sy hasiepop is dalk die weerlose teëhanger vir Dogoman en die een wat bereid is om wal te gooi teen dwaling – die karakter met wie ‘n mens dalk sou wou identifiseer. Francois Jacobs bring ‘n onskuld na dié karakter wat Dogoman én die nag van Legio des te meer skrikwekkend maak.

Dit is die tragikomiese aspek wat PG in Nag van Legio ingebou het en wat Albert netjies ontgin, wat bydra tot die trefkrag van die stuk. Vir humor sorg Oubaas Menge (Gerben Kamper), Charley (Duncan Johnson), Claassens (Deon Lotz) en Jakkie (Hein Poole). Maar meer as net verligting – waaraan Jakkie so dringend ‘n behoefte het – lewer dié viertal oortuigende spel as inwoners van ‘n inrigting met hoë vensters en ‘n deur sonder ‘n knop.

Dié produksie van Nag van Legio huldig die nalatenskap van PG, die man van ‘n legio verhale wat vermaak én ontstel, wat begogel én ontgogel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button