Gehoor verwelkom geliefde Fiela
Die jaar 1985, waarin Dalene Matthee se tweede sogenaamde bosroman, Fiela se Kind, die lig gesien het, was donker dae in Suid-Afrika.

In die laaste dekade van apartheid, met die stuiptrekkings saam, is wette soos die destydse Groepsgebiedewet en die Ontugwet venynig afgedwing. Nietemin was die skrif aan die muur.
Die feit dat dié boek in dié tyd deur biblioteeklesers aangewys is as die gewildste van die eeu, was aanduiding hiervan.

Matthee se boek het deeglik rekening gehou met die bisarheid wat sosiale ingenieursvernuf tot gevolg gehad het.
Maar meer as weersin in ‘n politieke bestel was dit dalk die menslike onreg wat talle lesers aangegryp het.

Dit is dalk dié (on)menslikheid wat Fiela vandag nog, meer as twee dekades ná die einde van geïnstitusionaliseerde apartheid, ‘n gunsteling maak.
Soveel dat Frans Swart nou weer Suzanne van Wijk se verhoogweergawe van die roman verwerk het met Shaleen Surtie-Richards in die titelrol.

Dalk is dit die einste weemoed oor onmenslikheid en woede oor onreg “wat die huil in ‘n mens se neus wil laat opstoot”, soos Benjamin Komoetie dit stel.
Woede, want as ras nie (in 1862 al) ter sprake was nie, sou dié onsinnige onreg nooit plaasgevind het nie.

Dit was ras wat die uitspraak bepaal het wat Benjamin na die versukkelde wit Van Rooyens toe gestuur het.
Frans se verwerking en regie hou na aan die roman en die destydse rolprentweergawe van Katinka Heyns.
Só naby dat ‘n mens nie anders kan nie as om die verhoogproduksie te sien as taferele wat die narratief op die voet volg.

Dié benadering deug nog in die eerste helfte waar die verhaaltrant wissel tussen die Komoeties se ordelike bestaan in die Lange Kloof en die haglike omstandighede van die bosbewonende Van Rooyens.
Ná pouse, wanneer Lukas en die meisiekind Nina grootgeword het en die aksie ook na Knysna verskuif, oortuig dié liniêre verteltrant minder.
Die probleem word vererger omdat periferale karakters (soos Veldkornet Armstrong en mnr. Benn) ingebring word wat binne die roman nog betekenis sou kon hê, maar die verhoogproduksie frustreer eerder as verhelder.

Spel is deurgaans begeesterd – soms te luid (soos met die soektog aan die begin van die stuk) en dawerend op die los stelplanke.
Vertolkings wat uitsonderlik opgeval het is dié van Paul Lückhoff as die gewetenlose lummel Elias van Rooyen,
Edrien Erasmus as sy bedremmelde vrou, Barta, en Vian Singleton as die onskuldige Benjamin.

