
Gisteraand se Huisgenoot Afskopkonsert het Innibos met ‘n bang afgeskiet. Bekende musikante se lewendige treffers het gesorg dat die atmosfeer en gees tasbaar was. Die terrein was oudergewoonte volgepak met duisende plaaslike feesgangers asook nasionale gaste.
Volgens Innibos se bemarkingsbestuurder, Sandra Jacobs, het 13 090 mense gister die feesterrein besoek – dié syfer moet nog deur ouditeurs bevestig word. “Die eerste dag was ‘n sukses en geen ernstige voorvalle is aangemeld nie. Ons het 466 meer feesgangers as verlede jaar gehad en van hier af tel dit net stoom op,” het sy aan Muskiet gesê.
Ou Innibossers weet dat die lekkerte van hier af net gaan toeneem. Boonop word daar vanjaar in die oortreffende trap fees gevier. Gister se lekkerte gaan aanhoudend oortref word totdat dit Sondag met Loof Hom Innibos afsluit.
Gisteraand se program is met “Nkosi Sikelel ‘iAfrika” geopen. Pieter Koen was daarna op die verhoog met treffers soos “Man van staal” en “Sewe wonders.” Hy en sy seuntjie, Jayden, het die gehoor gaande gehad toe hulle “Boobs boude bene” saamgesing het.

Nando’s se verjaarsdag is met ‘n dansvertoning gevier waarby die gehoor betrokke was.

Ruan Josh het ‘n vinnige draai op die planke gemaak voordat Joshua na die Reën met sterk ritmes en diep lirieke die gehoor na hul asems laat snak het. “Wêreld binne my” en “Lig op die horison” het mense in vervoering gehad.

Die driestuks Broers se klank het ‘n gevoel van nostalgie teweeggebring. “Trein na Margate” en “Toeter op my waterskoeter” het by die gehoor aanklank gevind.
Andriëtte het gesmeul in ‘n swart leerbroek. “Mag Hy” het die immergewilde Mango Groove-treffer “Special Star” en “Jabulani” voorafgegaan.
Die popsensasie Jay het gewys waarom sy gewildheid net toeneem met “Sexy als ik dans.” Sy ou gunstelinge het mense aan die skud gehaad.

Bobby van Jaarsveld het harte vermurwe met “Totaal finaal” en “‘n Vrou wil dit hoor”.

Spesiale effekte het meegebring dat die gehoor hulself op ‘n groot skerm kon sien. Vanjaar se Innibos is vol verrassings – gisteraand s’n was ‘n ysskaatsvertoning op die hoofverhoog. Daarna het Bok van Blerk se saamsingliedjies feesgangers op hul voete gehad.

