Local newsNews

Drie susters met stories wat resoneer

Die tragikomedie Amper, Vrystaat kom bied haarself op Innibos aan met 'n hele rits gloeiende verwysings: beste debuutproduksie op die 2015 Vrystaat Kunstefees, vyf Fiësta-benoemings in 2016 en beste produksie op Aardklop 2016.

Geskryf deur Antoinette Louw, Milan Murray, Nico Scheepers en Cintaine Schutte vergestalt dié stuk die komplekse verhouding van drie susters wat die klein dorpie Amper in die Vrystaat en ‘n weduwee-ma daar as gemene deler het.

Nico is ook die regisseur en bied die drie verhale van die susters parallel aan – elkeen op ‘n klein eilandjie met ‘n brandende gloeilamp as ‘n soort praatstok of aanduiding van ‘n spreekbeurt.

Die susters is Annatjie (Cintaine), wat ook verkies om bekend te staan as Anne. Sy is die jongste, het ‘n sorgeloosheid en woon in Kaapstad. Bea (Antoinette), die oudste, woon in Wonderboom, het ‘n verhouding met Louis en is eintlik bitter alleen. Liz (Milan) woon in Faerie Glen, is ‘n ma en vir die derde keer getroud.

Dié drie gee elkeen aanvanklik en om die beurt ‘n eerstehandse beskrywing van haarself, reflekteer dan op die ander twee en van meet af snap die gehoor dat dié persepsies van die ander twee bepaal word deur lense soos skuld, selfverwyt, vermeende verantwoordelikhede en die voldoening aan die verwagtings van ander mense.

Die winspunt van dié gevatte teks met menige kwinkslag, dikwels met die effek van ‘n sweepslag, is dat ‘n mens onmiddellik die karakters herken. Die gegewe is werklikheidsgetrou en resoneer op talle vlakke met familie wat jy het, of minstens ken. Nie almal het ‘n niggie met die naam Amoerentia nie, maar dit maak haar nie vreemd nie. Nie almal het ‘n pretensieuse suster nie, maar ‘n mens herken haar terstond.

Cintaine, Antoinette en Milan voel mekaar instinktief aan en speel met fyn berekende tydsberekening op ‘n stel wat min ondersteuning bied – en wat hulle juis so uitgelewer en insulêr aanbied.

Dit is bytende humor en raak beskrywings met die vinger op die pols van die oomblik wat dié stuk so sjarmant laat skitter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button