Innibos se kreatiewes ontvang toekennings
Innibos se eerste National Craft Awards was 'n aand om te onthou.
Die sjiek funksie is Sondagaand by die stad se burgersentrum gehou. Handwerkkuns is deur byna 800 talentvolle skeppers van regoor die land uitgestal.
Die doel van die toekennings was om bewustheid rondom dié kunsvorm te skep.

Handwerkkuns kry nie altyd die erkenning wat dit verdien nie, maar is ‘n belangrike vorm van uitdrukking wat Sondagaand tot sy reg gekom het.
Van die kunswerke was asembenemend mooi. Daar was fyn keramiekblompotte en pragtige muurbehangsels.

Speelgoedolifantjies van gestopte materiaal, ‘n viltbul en ‘n bokkop oorgetrek in ‘n hekelkombers, was onder die gunstelinge. Draadwerk, kraletjiefigure en houtkieries is ook uitgestal. Baie van hierdie items het jare se harde werk geneem om te voltooi.

Pauline Blignaut se gehekelde kombers het ‘n storie vertel. Sy het vir 34 jaar lank wol vir die kombers bymekaargemaak. Thami Kiti het die platinumprys met sy houtkieries gewen. Vinah Ndwandwe se reusemandjie het haar goudprys besorg. Elizabeth Msiza met haar kraletjiekombers het die silwerprys losgeslaan.

Die Laeveld se eie Hanlie Bosch het ‘n spesiale prys vir haar werk as plaaslike kunstenaar verower. Nkuli Mlangen was tweede vir haar geweefde mat. Die organiseerders sien daarna uit om dit volgende jaar weer te doen.

