Local newsNews

Musici deel skatte uit die kamers van hulle harte

In die huis van musiek is daar vele woonplekke.

So blyk dit uit Klassieke Kamers, die program met Christelle Webb-Joubert as gasvrou wat kamer op kamer oopsluit om Suid-Afrikaanse talent te onthul.

In die “voorportaal” het Dirkie van Staden (kitaar) en Lynette de Jager (viool) van World@South die gehoor verwelkom met wêreldmusiek ter voorbereiding van die tog wat voorlê.

In die eerste kamer kom die gehoor Johannes Slabbert teë, ‘n Kaapse tenoor wat vir Kaapstad Opera sing en onder meer ook klas gee by verskeie private skole, begelei deur Elna van der Merwe.

In Christelle se bekendstelling van dié twee kunstenaars, het Elna ‘n sinvolle opmerking oor die rol van die begeleier gemaak en eerder ‘n term soos “medewerkende kunstenaar” voorgestel. Die pianis is immers veel meerr as net ‘n begeleier – iets wat duidelik was toe sy ook kater vir Zanne de Lange begelei het.

Johannes was, soos hyself aangekondig het, tot so onlangs as die begin van die jaar nog ‘n bariton. Intussen het hy homself in die Fach van tenoor bevind en dié stem begin verken. Hoewel ‘n mens hom sy strewe na die tenoor-musiekskat gun, is dit sy fluweelagtige lae register wat jou bybly. Met goeie diksie, dog met gedraenheid, was dit sy vertolking van Arnold van Wyk se “In die stilte van my tuin” en “I’ll walk with God” wat opgeval het.

Die Wits Trio, bestaande uit Zanta Homeyr (viool), Maciej Lacny (tjello) en Malcolm Nay (klavier), het die gehoor in die tweede kamer op ‘n reis na die suide van Amerika geneem in die musiek van Astor Piazzolla. In sy “Vier seisoene” het dié trio bewys gelewer van hulle fyn onderlinge aanvoeling en die manier waarop hulle mekaar deurgaans ondersteun – ‘n heerlike voorbeeld van voortreflike ensemble-spel.

In ‘n ander vertrek op die kampus van Church Unlimited net buite Mbombela, het CH2 in die derde kamer op die gehoor gewag met klanke onder meer uit Spanje, dié van techno-musiek en allereers die bekende tema uit die gewilde TV-reeks, Vyfster.

Dit was verbluffende vingerwerk, musikale interpretasie uit die boonste rak en improvisasie wat die gehoor op hulle voete gehad het. Gehoorlede het spontaan gaan staan om dié duo se vingerwerk te betrag.

Zanne de Lange, die sopraan wat voorheen naam gemaak het as Zanne Stapelberg (sy het intussen haar getroude van aangeneem) het ses liedere vertolk: drie Afrikaanse kunsliedere en daarna drie arias. Zanne het laat blyk dat sy herstel van verkoue. Dit was egter die groter arias (Puccini se “Vissi d’arte” uit Tosca, die “Habanera” uit Bizet se Carmen en die “Juweellied” uit Gounod se Faust) waarin haar mooi stem ryker en voller voorgekom het.

Elna is gewis, soos sy aangedui het, veel meer as blote begeleier. Sy maak as bekwame pianis musiek saam met die solis wat sy begelei.

Klassieke Kamers is in Church Unlimited op Saterdag 8 Julie om 10:00. Tydsduur: 80 minute. Prys: R157.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button